Local newsNews

Kinross VLU geniet vergadering

Belangstellendes is welkom om die volgende vergadering op 12 September by te woon.

Lede van die Kinross VLU-tak het op 29 Augustus bymekaar gekom waar Lynette Posthumus, lewensafrigter en lid van die Bethal VLU-tak die vroue toegespreek het.

Sy het wenke gegee oor hoe om jonger te bly en gesê dit is belangrik om genoeg slaap in te kry, alkoholinname te beperk, die brein besig te hou deur nuwe vaardighede aan te leer en om in kontak met vriende en familie te bly.

“Hou aan om lief te hê en lag gereeld. Dit is goed vir ’n mens om te lag en jou lyf reageer positief op humor,” het Posthumus gesê.

“Gee jou besittings wat jy nie meer gebruik nie weg en wees dankbaar. Christene het baie om voor dankbaar te wees.”

Sy het die vroue ook aangemoedig om aan te hou droom oor die toekoms.

“Sê ja vir inspirasie, nuwe dinge, vriende en liefde. Begin om te oefen. Oefening werk wonderlik een angs en depressie en dit beveg kanker.

“Moenie tyd saam met negatiewe mense bestee nie. Reis as jy die geleentheid kry en behandel jouself goed; bederf jouself,” het Posthumus afgesluit.

Die vroue het daarna saamgekuier en verversings geniet. Die Kinross VLU-tak hou elke maand vergadering die Evanderklub en belangstellendes is welkom om dié vergaderings by te woon.

Vir meer inligting, skakel Thea Potgieter by 082 823 2728.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button