Jong ma van Delmas skitter in SterStatus
Tjar-Lize Klopper het die toekenning as naaswenner vir liefdadigheid ingepalm.
Vir Tjar-Lize Klopper, inwoner van Delmas en kleuterskoolonderwyser van beroep, het 2024 se SterStatus seisoen ses kompetisie op ’n hoogtepunt geëindig.
Groot opgewondenheid het in Delmas kringe geheers toe daar aangekondig was dat Tjar-Lize as finalis in die kompetisie aangewys is.
Die kroningsgeleentheid het op 19 Oktober plaasgevind.
Om haar te ondersteun was haar skoonouers, Mike en Hettie Klopper, haar ouers, Tjaart en Maralize van der Walt, manlief Max Klopper en seuntjie Dawid.
Met haar getrouste ondersteuners aan haar sy het Tjar-Lize die toekenning as naaswenner vir liefdadigheid ingepalm.
Vir Tjar-Lize het die toekenning egter om baie meer as nét die kroning gegaan.
“Dit beteken dat my passie om ander te help, raakgesien word en dit vul my met nederigheid, maar ook met groot blydskap,” het Tjar-Lize gesê.
Volgens Tjar-Lize het sy reeds met die afskop van die SterStatus seisoen haar oog op die liefdadigheidstitel gehad.
“Die geleentheid om in 2025 saam met die wenner, Bianca, en die hele liefdadigheidspan te werk, is vir my baie spesiaal en vul my hart met soveel vreugde.”
Vir Tjar-Lize het die 2024 vreugde ongekende grense, want op 24 Oktober het sy boonop haar kursus in vroeë kinderontwikkeling voltooi. Tjar-Lize staan ook bekend as stigter en voorsitter van die ‘Moment by Moment Motherhood’ organisasie.
“Op 30 November vier ons die organsiasie se eenjaar bestaan en met die kennis wat ek tydens my kursus opgedoen het, wil ek graag kinders en hul families bystaan,” het Tjar-Lize oor haar kursus gesê.

Soos berig in Streeknuus (22 Maart) het Tjar-Lize grootgeword in Maleoskop net buite Groblerdal in Limpopo waar sy ook haar laerskoolloopbaan voltooi het.
Haar hoërskool loopbaan het sy aan Hoërskool Ben Viljoen voltooi nadat haar ouers na ’n plaas in die Groblersdal omgewing verhuis het.
Sy het in 2019 na Delmas verhuis toe sy met Max getrou het en uit die huwelik is oupa’s en ouma’s aan beide kante se kleinkind en groot liefde, Dawid, gebore.
“Dit was tydens my laaste fase van swangerskap met Dawid, wat Covid-19 getref het en in hierdie tyd van intense inperking het ek tot die besef gekom daar iets meer aan mawees moet wees.

“Die besef dat dat mawees nie enige vrou aan bande behoort te lê nie; dat jy alle fasette daarvan in die alledaagse lewe kan bymekaarbring, maar tog ook maar mag en kan groot droom, het by my posgevat.
“Gou het ek geweet om ma te wees beteken nie dat jy moet ophou groei in jouself en jou gemeenskap nie.”
Haar studies en SterStatus het gevolg en Tjar-Lize is in die bevoorregte posisie geplaas om haar passie verder uit te leef.
Tjar-Lize bedank elkeen wat haar ondersteun het en steeds ondersteun. Die Delmas gemeenskap, Heidi Kleuterskool se personeel en hoof, Riëtte Wheller, vriende, vreemdelinge en natuurlik my uitgebreide gesin – ouers, skoonouers en Max – sonder julle sou dit nie vir my moontlik gewees het nie
“As ma en kleuteskool onderwysers glo ek sterk in die krag van ’n liefdevolle en ondersteunende omgewing vir kinders en gesinne,” het Tjar-Lize afgesluit.
ALSO CHECK: Swimmers in Secunda show off skills
ALSO CHECK: Kinross Khoisan meet with minister McKenzie





