Gholfspelers swaai stokke ten bate van Laerskool Sundra
Riaan Muller en Sarel Opperman was met 53 punte as die wenners aangewys.
Gholfspelers van oraloor het op 8 November, Laerskool Sundra se eerste gholfdag bygewoon. Vyftien vierbal spanne het die koel weer op Delmas se gholfbaan geniet en hul harte ten bate van ’n geldinsamelingsdag vir Laerskool Sundra uitgespeel.
Riaan Muller en Sarel Opperman was met 53 punte as die wenners aangewys.
In die tweede plek met 51 was Francois Kruger en Dilien Kruger. Dave Steward en Morné Swanepoel het met 50 punte in die derde plek geëindig.
Vierde was Frans Venter en Joppie Victor met 48 punte en in die vyfde plek het Adriaan Benadie en Melissa Venter met 45 punte klaargemaak.
Francois Kruger het die prys verower vir die langste dryf en naaste aan die putjie was Geoffrey Marais.
Laerskool Sundra se adjunkhoof, Jacques de Beer het elkeen wat hul ondersteuning gegee het, die grondslagonderwysers, beheerliggaam en elke speler bedank vir hul bydrae om van die dag so ’n groot sukses te maak.
“Volgende jaar doen ons dit weer, ons gaan groter en ons gaan beter,” het De Beer laat hoor.
Die skoolhoof, Vanessa van Rooyen, het ook namens Laerskool Sundra elke borg, helper, haar personeel, die spelers en Delmas Gholfklub bedank vir hul ondersteuning.
“Die geld wat tydens die dag ingesamel is, gaan gebruik word om vir ons skool ’n broodnodige boorgat te sink,” het Van Rooyen gesê.
Sy het voorts gesê dat dit Laerskool Sundra se eerste gholdag was, maar ook die onderneming gegee dat die geleentheid beslis in 2025 herhaal gaan word.













