As dit nie was vir die vinnige optrede van twee haweloses en ’n gewapende reaksieoffisier van Roman Alarms nie, sou die twee dagoue babadogtertjie wat in ’n asblik gevind is, waarskynlik verkluim het.
Dié reaksieoffisier, Gerhard van der Merwe, wat al vir 15 jaar vir Roman Alarms werk, was op nagskof toe die twee hawelose mense hom omstreeks 02:30 op 9 November in sy voertuig by die Sasol Vulstasie oorkant Secunda Mall genader het. Hulle het ’n baba hoor huil in die oop veld langs Küschkestraat.
Van der Merwe het sy beheerkamer, wat deur Bekkie Booysen, senior kontroleerder, beman is, laat weet hy gaan kyk of hulle iets in die veld kry.
Hy het saam met die twee hawelose mense ondersoek gaan instel en naby die dam, waar die parkrun op Saterdae plaasvind, die baba in ’n asblik gevind.
“Dit was nogal koud en reënerig dié nag. Gelukkig het ons haar gekry, want toe ons haar gevind het, het sy nie eers gehuil nie,” het Van der Merwe vertel.

“Sy was heel rustig en het haar arms beweeg. Sy was in ’n kombers toegedraai, maar daar was watte oor haar mond gesit sodat sy nie moes huil nie. Gelukkig het sy wel gehuil toe die twee mense wat my laat weet het, daar verbygeloop het, sodat hulle haar kon hoor.”
Van der Merwe het vir Booysen laat weet om die polisie en ’n ambulans te skakel, maar daar was nie ’n ambulans beskikbaar nie.
Die polisie het by die toneel opgedaag en die baba na Evander Hospitaal geneem. Van der Merwe en Booysen het ’n paar dae later by die hospitaal gaan inloer om te kyk of alles goed gaan met die baba.
Dié kleinding het goed gelyk hoewel sy vir infeksie behandel is. Die verpleegpersoneel het gesê sy sou so paar dae later vanuit die hospitaal ontslaan kon word.
Die maatskaplike werkers en kinderbeskermingseenheid van die polisie is in kennis gestel van die voorval en die baba is na ’n plek van veiligheid geneem.
Van der Merwe se vrou Sofia, het danksy die help van Esti Smit, reeds doeke, komberse en ander nodige items vir die baba ingesamel en sal dit by die plek van veiligheid gaan afgee.
LEES OOK: GMM suspends manager of water project
LEES OOK: Klippe vanaf brug op N12 naby Delmas gegooi; motoriste gewaarsku



