Makietie-feesgangers skenk lewensreddende bloed
Delmas Herleef se tweede makietie sedert Delmas in 2023 as Dorp van die Jaar aangewys was, het ’n menigte vrolike voete gelok, maar vir sommige was dit ook die ideale geleentheid om bloed te skenk.
Delmas Herleef se tweede makietie sedert Delmas in 2023 as Dorp van die Jaar aangewys was, het ’n menigte vrolike voete gelok, maar vir sommige was dit ook die ideale geleentheid om bloed te skenk.
Die bloedbank mobiele eenheid was op 26 Oktober op die feesterrein by Hoërskool Delmas geparkeer, gereed om broodnodige bloed te ontvang en feesgangers was gereed om te skenk.
Streeknuus het een skenker tydens die makietie gesels. Morné Lourens (49) het vertel dit was sy 44ste keer wat hy bloed geskenk het.
Volgens Lourens doen hy dit omdat dit eerstens lewens red en verder omdat hy meegedeel was dat gereelde skenkers bloed gratis sou ontvang indien dit benodig word.
LEES OOK: Span deel geskenkbokse uit by Laerskool Trichardt se koshuis
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) is ’n nie-winsgewende organisasie wat bloed vir oortapping berg en beskikbaar stel wanneer dit in mediese noodgevalle benodig word.
Volgens die SANBD is bloedskenk ’n veilige proses en kan dit binne sowat 30 minute afgehandel word. Alle bloedgroepe word benodig, maar die O-bloedgroep is universeel en kan vir alle bloedgroepe gebruik word.
Voornemende skenkers moet volgens die SANBD tussen 16- en 65 jaar oud wees, meer as 50kg weeg, ’n lae risiko seksuele lewe lei en moes die persoon ook op die betrokke dag geëet het.
Vir meer inligting oor hoe om ’n bloedskenker te word, besoek die SANBD se webtuiste by www.sanbs.org.za
LEES OOK: Buhle Farmer’s Academy honours its summer graduates




