Local newsNews

Drie van Secunda stig nie-winsgewende organisasie

Organisasie is brug tussen borge en behoeftiges.

Liné de Vries en Karin Strydom was die afgelope paar jaar die organiseerders van die NG Kerk Goedehoop-gemeente op Secunda, se jaarlikse Ligdraer projek. Dit is tydens dié projek wat die idee vir hul nuwe nie-winsgewende organisasie, Tree-Seeds, gebore is.

“Ons het gesien daar is ondernemings en individue wat geld wil gee en nie weet vir watter projekte, kinderhuise of organisasies om dit te gee nie,” het De Vries vertel.

“Baie mense weet van die plekke wat gereeld skenkings kry, maar min mense weet byvoorbeeld van die vrou in eMbalenhle wat na ses gestremde kinders omsien.”

De Vries, Strydom en hul derde vennoot, Gary Leibbrandt, probeer juis help daar waar niemand anders hulp aanbied nie.
Die doel van hul organisasie, Tree-Seeds, is om as skakel tussen die borge en dié in nood op te tree.


LEES OOK: Cullinan police embarks on a domestic violence awareness campaign


“As ’n onderneming of individu na ons toe kom en sê hulle wil êrens help of betrokke raak, maar hulle weet nie waar nie, kan ons vir hulle ’n lys van projekte gee en hulle kan dan kies waar hulle wil gee,” het De Vries gesê.

Tree-Seeds bestuur ook die projek vir die onderneming wat wil uitreik en teruggee aan die gemeenskap en gee hulp en leiding aan die begunstigde organisasie, kinderhuis of ouetehuis van die projek sodat hulle in die toekoms hul organisasies beter kan bestuur.

Een van die projekte wat hulle na aan die hart lê, is toe hulle op drie kinders gefokus, ingegryp en gehelp het om van hul uitgawes te dek. Een van dié drie kinders het kanker, een het nierprobleme en die derde kind is gestremd.

Tree-Seeds het onlangs ’n opleidingssessie aan ander nie-winsgewende organisasies gebied om te verseker dat hulle papierwerk en registrasies in orde is volgens die wette vir nie-winsgewende organisasies.


LEES OOK: Bronkhorstspruit SAPS embarks on 16 Days of Activism against Gender-based Violence campaign


Tree-Seeds was ook vroeër vanjaar betrokke by die waterprojek waar Westvaal Motors Secunda en Isuzu Suid-Afrika 14 watertenks by ses plekke, onder andere skole, laat oprig het.

Voordat ’n onderneming of individu in ’n projek belê, maak De Vries en Strydom seker alles by die plek is reg, soos met die waterprojek, moes die skoolgronde skoon en netjies wees.

“Ons maak seker die belegger of onderneming se geld word reg aangewend en dat die projek volhoubaar is,” het Strydom gesê.

Een van Tree-Seeds se nuutste projekte is om vanjaar nog op die twee ouetehuise op Bethal te fokus en ook daar watertenks op te rig.

Hulle beplan ook om vroeg volgende jaar ’n boekie waarin lewensvaardighede geleer word, aan jong kinders in kinderhuise en plekke van veiligheid uit te deel. Die span is nog op soek na ’n borg om by dié projek betrokke te raak.

Vir meer inligting, of as jy as ’n vrywilliger by Tree-Seeds betrokke wil raak, volg hul Facebookblad, of stuur ’n e-pos na treeseedsinfo@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button