Local newsNews

Gedenkdiens vir Lietie Swanepoel vind Vrydag op Bethal plaas

Die diens vind om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk op Bethal plaas.

’n Gedenkdiens om van Lietie Swanepoel afskeid te neem en ook om haar lewe te vier, is op 10 Januarie om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk op Bethal.

Swanepoel (62) is op 15 Desember skielik in haar huis aan ’n hartverwante oorsaak dood. Sy was ’n Bethaller in murg en been en het haar lewe lank op dié dorp gewoon.

“My suster is op Bethal gebore, het by Laerskool HM Swart skoolgegaan en aan Hoërskool Hoogenhout gematrikuleer. Sy was slegs tydens haar naskoolse studies nie op die dorp nie, ” het Alet de Wet vertel.

Swanepoel het by haar ouers, Swannie en Kotie Swanepoel, gewoon en het hulle tot hul dood versorg en was baie geheg aan hulle.

Hul ma se afsterwe drie maande gelede het die Swanepoel-familie swaar getref en nou Lietie. Swanepoel laat nederige, maar diep spore in die gemeenskap van Bethal, Secunda en Ermelo agter.


LEES OOK: Preparing your children for the first day of school after the holiday


“Liet het geleef vir haar kerk, ouers, gemeenskap, werk en sport,” het De Wet gesê.

Sy was vir 11 jaar die skriba van die Hervormde Kerk op Bethal, ’n amp wat ook voorheen deur haar pa vir baie jare beklee was.

Swanepoel was ’n groot gees in sportkringe en sal onthou word as ’n gedugte muurbalspeler, fietsryer, netbalspeler en rolballer.

Sy was ’n stigterslid van die Bethal Muurbalklub en later ook bestuurlid van die Sasol Muurbalklub, bestuurslid by Bethal Fietsryklub en onlangs ’n aktiewe bestuurslid van die Ermelo Rolbalklub.

Swanepoel het vir 17 jaar as administratiewe beampte by Sasol gewerk en voor dit was sy ’n bekende gesig by Bethal Fotodrukkers.

“Liet het altyd vir ander tyd gehad. Die huldeblyke oor haar het almal dieselfde sentrale boodskap – Lietie was daar vir ons in goeie en swaar tye. Ons gaan haar ongelooflik baie mis,” het De Wet afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button