Delmas Valke-buurtwag slaan toe op 15 vermeende misdadigers
Gedurende Januarie was veiligheid in dié gebied opgeskerp, wat tot die inhegtenisneming van 15 vermeende misdadigers gelei het.

AfriForum se Delmas Valke-buurtwag het in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies verskeie suksesse in die stryd teen misdaad behaal.
Gedurende Januarie was veiligheid in dié gebied opgeskerp, wat tot die inhegtenisneming van 15 vermeende misdadigers gelei het.
Volgens ’n mediaverklaring wat AfriForum op 4 Februarie uitgereik het, het die Valke-buurtwag talle inhegtenisnemings wat verband hou met diefstal, kaping en vandalisme gemaak.
Hiermee saam het die buurtwag gehelp om op meer as 50 kratte alkohol beslag te lê. Drie voertuie, waaronder ’n vragmotor wat gekaap is, is ook in hierdie tyd teruggevind.
Benewens die harde slag wat misdadigers toegedien is, het AfriForum se Delmas Valke-buurtwag ook die gemeenskap elders bygestaan. Die buurtwag het gehelp om ’n vragmotor uit te sleep wat ná baie reën in Eloff vasgeval het.
LEES OOK: Egpaar van Trichardt vier 72ste huweliksherdenking
Die buurtwag se mediese span het ook gemeenskapslede in 22 afsonderlike voorvalle te hulp gesnel. Dié span poog om slagoffers van aanvalle en motorongelukke by te staan totdat nooddienste op ’n toneel kan oorneem.
In een so ’n geval wat op 16 Januarie op die N12, rigting eMalahleni plaasgevind het, is ’n voetganger gedood. Twee voertuie was by hierdie ongeluk betrokke, waaronder twee Duitse toeriste wat na die Krugerwildtuin onderweg was.
Die voetganger is deur ambulanspersoneel op die toneel dood verklaar, maar die Valke-buurtwag het bystand gelewer ten einde seker te maak dat die insittendes van albei voertuie veilig was en reaksielede het verder bystand gelewer met die beheer van die verkeer. (Streeknuus, 24 Januarie).
“Delmas is veiliger danksy dié AfriForum-spanne se toegewyde en harde werk. Hulle staan nie terug en wag vir iets om te gebeur nie, hulle soek ’n oplossing vir die voortslepende misdaadprobleem waarmee Delmas geteister word,” het Carel Botha, voorsitter van AfriForum se Delmas-tak, gesê.
LEES OOK: G’n kat en hond-gevegte in dié huishouding op Standerton