Standerton se Lenie Beukes is gaande oor blommerangskikkings
Vanaf haar kinderjare, was hierdie voorsitter van die Teksa Blommeklub op Secunda lief daarvoor om vrugte in mooi maniere te rangskik en die etenstafel te versier.
Lenie Beukes is al vir meer as 30 jaar ’n bloemis op Standerton, waar sy haar passie vir mooi dinge uitleef.
Beukes woon al haar hele lewe op Standerton en was in 1978 in matriek aan Hoërskool Standerton, waar haar drie dogters en man ook deel van die alumni vorm.
Vanaf haar kinderjare, was hierdie voorsitter van die Teksa Blommeklub op Secunda lief daarvoor om vrugte in mooi maniere te rangskik en die etenstafel te versier.
Met die geboorte van haar dogters was Beukes se gunsteling mamma-plig om rokke vir die meisiekinders te maak.
Beukes het vertel sy het haar ’n blommewinkel in 1994 oopgemaak.
“Dit was moeilik aan die begin en om my voete te vind in die blommemark was ’n reuse uitdaging,” het Beukes gesê.
Hoewel Beukes nog aktief rangskikkings maak vir die onderneming, het haar dogter, Cornelia die winkel oorgeneem.
Volgens Beukes kry sy haar blomme vanaf Multiflora in Johannesburg. Beukes reis elke vyf dae na die blommemark om vars blomme te kry.
Haar man, Johnny ondersteun haar deur om heen en weer na die blommemark te ry en het uiterse geduld wanneer Beukes nog ’n boomstomp of takkie vanaf vakansie saambring. Beukes het verduidelik blompryse is afhanklik van vraag en aanbod.
“Om die beste vars blomme te kry, moet ‘n mens vertrouensverhoudinge met blomboere opbou. As die boer sy plante goed versorg hou blomme langer voor dit verlep,” het Beukes gesê.
Sy is lid van die Suid-Afrikaanse Blomme Unie (SABU) en hou daarvan om kunswerke met plantemateriaal te skep.
Beukes het al aan talle kompetisies geneem en het in 2023 haar SABU Nasionale Ontwerpdiploma ontvang. Die volgende stap wat Beukes graag wil neem, is om ’n beoordeelaar vir kompetisies te word.
Sy verduidelik elke buigie, draaitjie en kleur van ’n blom het ’n ander simbolieke betekenis.
“Horisontale lyne simboliseer rustigheid en vrede, waar diagonale lyne ’n manlike verbintenis het,” het Beukes gesê.
Hoewel sy vanweë die besigheid en haar kompetisies baie weg van die huis af was, het Beukes deur die jare betroubare personeel aangestel wat haar in die industrie uithelp.
LEES OOK: Adopt a pet from Delmas Animal Shelter today
“Bloemiste het nie af dae nie. Ek ek moes vir baie jare sonder hulp klaarkom en het gereeld my hele wese gegee om my droom ’n realiteit te maak,” verduidelik Beukes.
Tans ontvang Beukes hulp vanaf haar getroue helpers, Sara Tshabalala en Maria Motaung. Haar reis in die blomme bedryf het haar al na van die mooiste plekke in Suid-Afrika geneem. Beukes het verduidelik Covid-19 het’n groot rol gespeel in die verandering van blommekompetisies.
“Voor Covid moes ons gereeld vêr reis om deel te neem, maar deesdae kan ons internasionaal deelneem,” het Beukes vertel.
Beukes is tans in die proses om lede vir die SABU Standerton-tak te werf. Diegene wat betrokke wil raak kan op die SABU webtuiste inskakel om in kontak te kom met bestaande lede in die area.



