Afrika kommandowurm kom sy Moses teë in Bronkies-omgewing
“Ons monitor die Bronkhorstspruit lyn intens en tree onmiddellik op indien boere wurms of motte gewaar.”
Na die onlangse uitbraak van die Afrika kommandowurm in die Bronkhorstspruit- en Cullinan omgewing het boere pro-aktief begin terugveg.
Soos berig in Streeknuus (21 Februarie) het die veiligheidsvoorsitter van Bronkhorstspruit TLU, Faan Roets, vertel die wurm se voorkoms was kommerwekkend.
‘n Groep staatsentomoloë het die gebied op 11 Februarie besoek en bevestig dit is die gevreesde “Fall Army”-wurm wat die gebied teister.
“Die entomoloë se besoek was insiggewend. Hulle het ons van motvangers voorsien. Die doel daarvan was om ‘n toetsloop vir die staat te doen met die motvangers, met die aktiewe bestanddeel feromoon,” het Roets gesê.

‘n Feromoon is volgens die definisie van Karlson en Lüscher (1959) ‘n chemise verbinding wat uigeskei word deur ‘n tweede individu van dieselfde spesie, waarby daar’n spesifieke reaksie veroorsaak word. (Bron: Wikipedia)
Motte sal dus na hierdie motvanger, reeds gelaai met toepaslike feromoon, gelok word en sodoende gevang kan word.
Teen druktyd het Roets bevestig die motvangers het nog nie veel positiewe uitslae gelewer nie, maar dat die toetslope voortduur.
“Ons gaan voort om gif te spuit; ons boere is waaksaam en hulle tree dadelik op by die eerste tekens van motte of wurms. Ons monitor die Bronkhorstspruit-lyn intens en tree onmiddellik op indien boere wurms of motte gewaar.”
“In gevalle waar boere nie oor die nodige toerusting, gif of finasies beskik nie, help ons waar ons kan. Deur die wurm van jou buurman se kleinhoewe of plaas weg te hou; beveilig jy nie net jou eie weiding of oeste nie, maar ook dié van ander boere.”

Intussen het die Banke Boere Unie van Middelburg boere ook gemaan om hul lande dop te hou vir die wurm. Doktor Gerhard Verdoorn, direkteur van die Griffon Gifinligtingsentrum en ‘n konsultant vir die landbou-chemiese bedryf, het hierdie plaag as ‘n reuse uitbraak beskryf.
Verdoorn het verder bevestig sipermetrien is die aangewese gisfstof vir gebruik teen die kommandowurm. Hy het op sosiale media gevra dat mense hom skakel as hulle dié wurms opmerk. Sy nommer is 086 177 6835.
Roets het Streeknuus teen druktyd meegedeel dat daar goeie nuus vir boere in die Bronhorstspruit- en Cullinan-omgewing is.
“Daar is steeds wurms, maar sedert ons begin het met die toediening van gif was daar nog geen volwasse wurm opgemerk nie. Ons boere moet dit net betyds aanmeld en aanhou spuit. Deur saam te werk kan ons die stryd teen hierdie plaag wen,” het Roets afgesluit.
LEES OOK: VLU se Bethal-tak leer meer oor gesondheid
LEES OOK: Sundra Secondary School learners’ quarrel leaves one wounded





