Delmas Rolbalklub se besigheidsliga groei van krag tot krag
Met 56 spelers per aand is die rolbalbaan vol van balle wat rol, kleur en hope gees.
Die Delmas Rolbalklub 2025 besigheidsliga het tot 28 spanne gegroei.
“Dit is die grootste ooit,” het die klub se president, Hanri Ehlers, gesê.
Met 112 spelers in totaal moes die liga soos in 2024 in twee groepe opgedeel word omdat die baan nie al die spelers op een aand kan akkomodeer nie.
Wedstryde word oor drie weke op Dinsdag- en Dondergaande gespeel. Met 56 spelers per aand is die rolbalbaan vol van balle wat rol, kleur en hope gees.
Nadat die eerste week se spel weens deurdringende reën met een week aangeskuif moes word, het die Vleilelies vanjaar se liga op 25 Februarie afgeskop.
Na die eerste ronde was die span van die Junior Studiegroep in die eerste plek, hul span twee in tweede plek en Perfect Water in die derde plek.
Die Bokmakieries het hul eerste wedstryd op 27 Februarie gespeel en hier het die span van Pimankus bo-aan die punteleër geëindig met Isofab tweede en Delkor-2 derde.
Ehlers het die spelers, ondersteuners en borge bedank, asook elkeen van die klublede wat tydens-, voor- en na wedstryde help.
Lees meer in volgende week se uitgawe van Streeknuus oor hoe die spanne in die tweede ronde gevaar het.









