Local newsNews

Yolandé Korkie praat by Wêreldbiddag op Secunda

Vrou vertel hoe sy en haar man ontvoer is en wat daarna gebeur het.

Yolandé Korkie was die spreker op 7 Maart by die Ronderkerk se Wêreldbiddag vir Vroue. Ds Mariëtte Stopforth het die middag geopen en gesê elkeen van die vroue se pad asook elke vrou se verhouding met die Here lyk anders.

Korkie het gesê haar en haar man, Pierre, se gyselaarsdrama het al 11 jaar gelede gebeur en mense vra haar dikwels of sy nie moeg raak om die storie te vertel nie.

“Ek sal nooit moeg raak om oor die Here se goedheid te praat nie,” het Korkie gesê.

Sy het vertel hoe sy en Pierre gewone onderwysers was in Bloemfontein en gereeld op uitreik-aksies na Venda en Lesotho gegaan het voordat hulle ervaar het dat die Here hulle geroep het vir sendingwerk in Jemen.

“Baie mense het ons grootoog aangekyk toe ons gesê het ons wil Jemen toe gaan en vir ons gesê dit is gevaarlik, maar ons het net geweet ons moes gaan.”

Die Korkie’s het in 2009 sak en pak na Jemen verhuis. Hul twee kinders was op daardie stadium agt en 10 jaar oud.

“Dit was ’n groot skuif vir ons, dit was ’n Moslemland wat vir die laaste 40 jaar op die lys van top 10 lande waar Christene vervolg word, is en dit is glad nie soos Suid-Afrika nie,” het Korkie gesê.

Sy het die vroue gemaan om nie te kla oor beurtkrag in Suid-Afrika nie omdat hulle in Jemen net vir 20 minute in elke 24 uur krag gehad het en ook net een keer maandeliks water gekry het.

“Dit is ’n land waar jy self vir jou geestelike groei verantwoordelikheid moet neem, want daar is geen kerke, geen preke wat ’n mens aanlyn kan luister nie. Daar as jou seun agt of 10 jaar oud word, gee jy vir hom ’n AK47 vir sy verjaarsdag en dit is niks vreemds om daar ’n geskietery te hoor nie.

“Hulle skiet as iemand verjaar, as iemand trou of as ’n seuntjie gebore word. Hulle hou daarvan om te skiet en om oorlog te maak.”

Baie westerlinge wat in Jemen gewoon het, het in 2011, toe daar ’n rewolusie in Tunisië uitgebreek het wat later oorgevloei het na Jemen, dié land verlaat.

“Mense het vir ons gesê dit raak gevaarlik ons moet uitkom daar, maar ons het gesukkel om ons paspoorte en visums hernu te kry en kon nêrens heen gaan sonder dit nie. Die volgende twee jaar was moeilik, brandstof en gas was skaars en orals om ons huis is beboue plat geskiet.”

Korkie het dié tyd egter as ’n ongelooflike groot deur tydens hul verblyf in Jemen beskryf en gesê baie van hulle vriende van Jemense herkoms het begin vrae vra.

“Ons het baie tyd met hulle deurgebring en selfs saam met hulle om ’n tafel gesit en eet wat nooit voorheen gebeur het nie.”


LEES OOK: Three plead guilty to eMbalenhle man’s murder


Die Korkie’s se kinders was op dié stadium 13 en 15 jaar oud en toe Yolandé se skoonpa in Port Elizabeth dood is, het die gesin besluit dit is tyd om terug te keer na Suid-Afrika.

Hulle het, met ’n gesukkel, uiteindelik daarin geslaag om hul reisdokumente gereed te kry en sou op 28 Mei 2013, nadat hulle die vorige dag nog ’n laaste paar dinge moes afhandel, terugvlieg.

Pierre, Yolandé en hul dogtertjie was oppad vanaf hul huis in Jemen, toe hulle hoor die elektrisiteit by hul huis is weer aan, waarna hul dogter besluit het om eerder te bly om televisie te kyk.

“Ek en Pierre is letterlik vyf minute nadat my dogter weer terug huis toe, die trappe op is, in ’n lokval in gelei. Die eerste paar ure van ons ontvoering was ons net bekommerd oor wat van ons kinders sou word.

“Jemen is nie net ’n land wat bekend is daarvoor om Christene te vervolg nie, maar ook dat ouer mans met sesjarige kinders trou. Ek en Pierre het vir mekaar gefluister dat dit net die Here se genade was wat gemaak het dat ons dogter besluit het om daardie dag eerder tuis te bly.”


LEES OOK: Informal settlement residents march to municipal offices in Secunda for land


Die paartjie het egter nooit geweet of hul kinders nog lewe of wat van hulle geword het nie.

Yolandé is agt maande ná hul ontvoering vrygelaat maar Pierre is 10 maande later, ’n dag voordat hy vrygelaat sou word, doodgeskiet.

“Toe ek die oproep gekry het, het ek gedink hulle gaan vir my sê ek kan pak en Turkye toe vlieg waar ons ooreengekom het om Pierre te ontmoet. Toe hoor ek egter hulle stuur Pierre vir my en hy is doodgeskiet.”

Met die aankoms van haar man se oorskot by die lughawe in Johannesburg, het Korkie lank gewonder wat sy vir die media sou sê en sy het ervaar dat die Here wou hê sy moes oor vergifnis praat.

“Die Bybel sê nie as jy so voel moet jy vergewe nie, maar wel dat ons moet vergewe, dis ’n opdrag.”

Sy het vertel hoe dit was om vir 10 maande as ’n gevangene deur terroriste in Jemen aangehou te word. Korkie se boek, 558 Days, vertel meer oor dié ervaring en is aanlyn beskikbaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button