Standerton se Gerda Büter herverkies as streekvoorsitter
Die VLU het haar uitgedaag om dinge te doen waarmee sy andersins lankal sou opgee.
Gerda Büter is sedert 1980 ’n lid van die VLU en vier vanjaar haar 45ste jaar as lid. Sy is vanjaar weer verkies as die voorsitter van die Hoëveldstreek.
Büter se reis saam die VLU het begin toe sy jonk was. Haar ma was die VLU voorsitter op Kestell. Sy het na Standerton verhuis saam haar gesin, nadat haar man as trein beheerbeampte aangestel was.
“Ek geniet my tyd in Standerton. ’n Plek gaan nie vir jou lekker wees teensy jy dit self lekker maak nie,” het sy gesê.
Büter vind geluk in die vriendskappe wat sy deur die VLU gebou het.
Sy reken die VLU vroue fokus op die opheffing van die plattelandse vrou en vergelyk die unie met ’n plattelandse universiteit waar vroue talle lewenslesse kan leer.
“Die vroue van die VLU is altyd gewillig om te help, tussen resepte, borduurwerk en soveel meer. Elke vrou blink uit op hul eie manier end deel graag hulle talente,” het Büter gesê.
Sy vertel sy het vir haar eerste mosterd uitdaging slegs 50% gekry, maar het onlangs 95% vir haar mosterd kon haal vanweë konstante oefening en hulp vanaf ander vroue. Die VLU het haar uitgedaag om dinge te doen waarmee sy andersins lankal sou opgee.
“Sonder die VLU sou ek nooit eers dink om borduurwerk aan te pak nie,” het sy gesê.
Büter het op ’n plaasskool haar laerskool voltooi en vertel hoe boere tradisies deel van haar lewe gevorm het van ’n jong ouderdom af. Volgens Büter is sy vandag nog vriende met baie van haar skoolmaats.
Büter se gunsteling aktiwiteit is bak en brou en sy geniet dit om vir haar kleinkinders talle soet happies te bak.
“My familie is naas my Skepper die belangrikste ding in my lewe en ek is dankbaar vir die VLU wat my toegelaat het om hulle so mooi te versorg,” het sy afgesluit.
LEES OOK: eMzinoni police warn of fake job scams
LEES OOK: SANBS launches #LifeGivas to inspire South Africa’s youth to become blood donors



