Local newsLocal sportNewsStreeknuus

Delmas Besigheidsliga 2025 se laaste balle rol

“Sonder julle harde werk en natuurlik ons borge, sou hierdie liga nie moontlik gewees het nie.”

Delmas Rolbalklub se 2025 besigheidliga met 112 deelnemende spelers, het op 19 Maart tot ’n einde gekom.

Hoewel van die wedstryde weens harde reën en weerlig uitgestel moes word, het spelers, ondersteuners en klublede deurgedruk en kon elke span in elke liga hul drie wedstryde voltooi.

Die Bokmakieries het op 14 Maart hul eindstryd afgehandel.

Die deelnemende spanne was Isofab, Delkor, JMA, Pimankus, Massey Ferguson, NTT Toyota, Valke Buurtwag, ARG- Solutions, Maksimum Sekuriteit en Schoeman Boerdery.

Isofab het dié liga met 51 punte gewen.

Gesamentlik in die tweede plek was Delkor-twee en JMA wat elk met 44 punte op die telbord geëindig het. Pimankus was derde met 40 punte.


Eugene en Isobel Beck is kleurvol getooi.

Massey Ferguson en NTT Toyota-een was gesamentlik vierde met 38 punte en die Valke Buurtwag het in die vyfde plek klaargemaak met 37 punte.

In die Vleilelie liga het die spanne van Schoeman Boerdery, Junior Studiegroep, Pionne Studiegroep, Perfect Water, Odendaal en Kruger, Maksimum Sekuriteit en Stander en Vennote om die trofee meegeding.

Die drie spanne van die Junior Studiegroep het onderskeidelik in eerste-, tweede- en derde plekke geseëvier met tellings van 61, 47 en 42.

Schoeman Boerdery het vierde geëindig met 41 punte en Perfect Water vyfde met 40 punte.

Verskeie toekennings was ook aan spelers met die meeste raakballe, potensiaal, gees, beste ondersteuners, beste geklee, die mees ernstige speler en vele meer oorhandig.


Spanlede, Odette du Toit en Cherese Meyer is in vrolike luim.

“Hierdie 112 spelers het hulle vaardighede en sportmanskap oor die vier weke in die beide die Vleilelie- en Bokamakierie ligas gewys,” het Hanri Ehlers, die klub se president, gesê.

“Namens die klub bedank ek die spelers en ondersteuners,” het Ehlers bygevoeg.

Volgens Ehlers het daar baie ure se beplanning en werk ingegaan om die liga die lig te lat sien.

“Ek bedank elkeen van ons lede wat baie ure se harde werk ingesit het. Sonder julle harde werk en ons borge, sou hierdie liga nie moontlik gewees het nie.”

“Elkeen van julle het daartoe bygedra dat die Delmas Rolbalklub se 2025 besigheidsliga so ’n groot sukses was.”

“Ons sien uit na die volgende liga,” het Ehlers afgesluit.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button