Louis neem leisels oor by Hoëveld Fotografieklub
Belangstellendes is welkom om Sasol Hoëveld Fotografieklub se volgende byeenkoms op 7 Maart by te woon.
Louis van der Walt (42) het laat verlede jaar die leisels as voorsitter van die Sasol Hoëveld Fotografieklub oorgeneem.
Dié Bethal-gebore fotograaf, het na skool die geleentheid gekry om by ’n kalkoenfabriek in Suid-Dakota in Amerika te werk en het vir twee jaar in Amerika gebly.
Dit was vir hom ’n interessante tyd in sy lewe en hy het die winters in Suid-Dakota as baie koud beskryf en die somers as baie warm. Dit was toe reeds vir hom lekker om sy reise en avonture op sy filmkamera te dokumenteer.
Sy fassinasie met fotografie het reeds op ’n jong ouderdom begin en hy onthou in sy kinderjare hoe sy pa altyd ’n kamera in die hand gehad het, vir werk en tydens familie-vakansies.
Toe hy na twee jaar in Amerika teruggekeer het na Suid-Afrika, het hy weer op sy geboortedorp, Bethal gebly en ’n kursus in rekenaar-ingenieurswese by die destydse Damelin Kollege op Secunda gevolg.
In sy tweede jaar het die kollege-bestuur besluit hy moet klasgee ook en Van der Walt het dié geleentheid aangegryp.

Hy het later na Secunda verhuis en by Graceland Casino, Hotel en Buitelugklub begin werk in inligtingstegnologie. Van der Walt het in 2008 Graceland vir Sasol verruil en werk steeds by Sasol, deesdae in die mynbou-afdeling aan die digitale tegnologie kant van dinge.
Hy het in 2018 sy graad in inligtingstegnologie-bestuur verwerf. Hy hou van die buitelewe en het al verskeie staptogte onder andere die Otter, Visrivier en staproetes in die Drakensberge aangedurf.
Sy vrou, Megan, het van dié staptogte saam met hom gedoen en geniet ook die buitelewe. Landskapfoto’s is hoog op sy lys van gunstelinge, maar hy geniet dit ook om swart en wit foto’s, portretfoto’s, wildlewe foto’s en makro-foto’s te neem en in te skryf vir kompetisies.
Van der Walt het in 2017 vir hom sy eerste DSLR-kamera, ’n Canon D70D, aangeskaf en vinnig besef dat dit nie net goeie toerusting verg om goeie foto’s te neem nie, maar ook tegniese vaardighede en ’n kreatiewe oog.
Hy het van jongs af reeds baie op twee fotoredigeringsprogramme, Photoshop en Lightroom, gewerk en vinnig geleer hoe om sy vaardighede in redigering van foto’s te vervolmaak. Hy het in 2020 by die Sasol Hoëveld Fotografieklub aangesluit, nadat hy in die koerant van dié klub gelees het.
LEES OOK: Support Bethal CPF and blood service
“Hiér het ek my benadering tot fotografie verfyn en besef dat fotografie veel meer is as net ‘mik en druk’,” het Van der Walt vertel.
“Dit is ’n vorm van kuns wat tegniese kennis, kreatiwiteit en visie verg.”
Sy visie vir die fotografieklub is om die klub te laat groei, die lede se fotografievaardighede te verbeter en die klub as ’n gesogte instelling, nie net in Mpumalanga nie, maar ook in die Fotografiese Vereniging van Suid-Afrika (PSSA), te vestig.
Van der Walt het aansoek gedoen vir sy eerbewyse in fotografie by die PSSA. Dié eerbewys is ’n erkenning vir fotograwe wat uitsonderlike vaardighede en bydrae tot die bedryf toon en en kan beskryf word as om ’n graad in fotografie.
Hy het ook ingeskryf vir die beoordelaars-akkreditasie program by PSSA en hoop om binnekort ook ’n beoordelaar te word.
Van der Walt beplan om meer dikwels interessante en leersame werkswinkels by die fotografieklub aan te bied en belangstellendes te leer watter verstellings om te gebruik wanneer jy foto’s neem en watter manier is die beste om foto’s te stoor.
Belangstellendes wat die volgende byeenkoms van die Hoëveld Fotografieklub, wat in April plaasvind, wil bywoon, kan Van der Walt skakel by 072 755 2767.
LEES OOK: Gert Sibande TVET College celebrates excellence



