Delmas Rolbalklub maak geskiedenis
“Die feit dat ’n klein klub soos Delmas deur die distrik raakgesien word, is ’n eer en voorreg.”
Die Delmas Rolbalklub was op 5 en 6 April vir die eerste keer in dié klub se 53 bestaansjaar, die aanbieder van ’n Ekurhuleni Bowls (EKB) tegniese beampte-merkerkursus. Daar was 20 kursusgangers, waarvan nege lede van Delmas, wat die geleentheid bygewoon het.
“Kursusgangers het van Pretoria na Delmas gereis om hierdie kursus by te woon,” het die Delmas Rolbalklub se president, Hanri Ehlers, gesê.
Volgens Ehlers is dit is belangrik om kennis te dra oor die tegniese aspekte van die spel. Delmas spog boonop ook deesdae met vier geregistreerde vlak een-afrigters, wie later vanjaar by die algemene jaarvergadering hulle balkies sal ontvang.
Die klub het verder geskiedenis gemaak deur op 23 Maart ’n EKB distrikeindstryd, waaronder die plaaslike klub ook val, aan te bied.

Ehlers sê die tegniese beampte was al douvoordag op die baan om dit vir die dag se aktiwiteite gereed te kry. Die Ekurhuleni Bows (EKB) raad het boonop ook hul raadsvergadering in die plaaslike opgeknapte klubhuis gehou.
“Die dag het gesorg vir rolbal uit die boonste rakke en boonop besoekers van heinde en verre na ons klub gelok,” het Ehlers gesê.
“Ons het baie komplimente gekry oor onder andere ons perk, fasiliteite en gasvryheid. Die feit dat ’n klein klub soos Delmas deur die distrik raakgesien word, is ’n eer en voorreg.”
“Dankie aan die distrik, GC Swanepoel van Perfect Delivery en elke klublid se ondersteuning,” het Ehlers bygevoeg.

Delmas Rolbalklub het 26 Maart verder ook ’n geleentheid vir hul ses junior lede gehou. Dié ses jongelinge het EKB tydens die Bowls SA Junior Kampioenskap in Bloemfontein verteenwoordig tydens die naweek van 28 en 29 Maart.
“Met ses junior uitblinkers maak dit Delmas Rolbalklub die grootste verteenwoordiger van junior spelers in die Ekurhuleni-distrik,” het Ehlers trots bygevoeg.
Die juniors het hulself baie goed van hul taak gekwyt onder strawwe kompetisie van ander distrikte in die land. Delmas-lid, Nicolene Visser, was boonop die o15-spanbestuurder.
“Sonder ons bestuur, lede, borge en wye ondersteuning, sou al hierdie eerstes vir ons klub nie moontlik wees nie. Ek bedank elkeen wat tot hierdie sukses bydra opreg,” het Ehlers afgesluit.








