Local newsMunicipalNews

Munisipaliteit faal om skoon water aan Bethallers te voorsien

AfriForum eis antwoorde van Rand Water en Govan Mbeki Munisipaliteit.

AfriForum se noodwaterpunte op Bethal het weer eens tot die redding van dié dorp se inwoners gekom gedurende die Paasfees-tydperk toe die krane weer droog was. Bethal-inwoners het vanaf 13 April geen water gehad nie.

Govan Mbeki Munisipaliteit het op 12 April boodskappe aan inwoners gestuur en gesê Rand Water het ’n kragonderbreking by die Bloemendal-pompstasie wat die watertekort veroorsaak het.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, was die reservoir vir Uitbreiding 5 op Bethal se vlakke teen 18:00 daardie aand reeds op 10%. Inwoners van hoogliggende dele was toe reeds sonder water gelaat.

“Teen 16 April was inwoners se krane steeds droog, ondanks die feit dat Rand Water se kragprobleme al op 13 April uitgesorteer was,” het Bekker gesê.

“Teen 16:00 op dieselfde middag, was die reservoir se vlakke op slegs 25%. Rand Water se voorsiening is egter steeds nie voldoende nie en water is slegs sekere tye van die dag na Bethal gepomp.


Morgenzon se water wat by die krane uitkom is bruin.

“Die reservoirvlakke was niks hoër as 45% nie toe daar op 17 April, ’n dag voor Paasnaweek, nog ’n boodskap van die munisipaliteit na inwoners gestuur is.”

Volgens dié boodskap moes Rand Water ’n lekkasie op die Bloemendal-waterpypleiding herstel en die watervoorsiening na Bethal sou weereens afgesit moes word.

“Inwoners moes ongelukkig maar vasbyt en Paasfees sonder lopende water deurgaan. Indien dié krisis nie gou genoeg opgeklaar word nie, sal Secunda se inwoners ook geraak word.”

AfriForum se noodwaterpunte in Bethal dra inwoners steeds deur dié krisis. AfriForum en die Afrikaanse Christelike Kerk op Bethal het in 2019 reeds hande geneem en die dorp met die noodwaterpunt gehelp.

Duisende liters water is met vragmotors en trekkers van boere se plase aangery om die noodwaterpunt te voed sodat mense gratis water kan kry.


LEES OOK: Service delivery in VKLM remains a vague hope to residents


Die noodwaterpunt by die Afrikaanse Christelike Kerk is ook nou toegerus met sy eie boorgat. Die kerkbestuur het dit goedgedink om hul eie boorgat te sink en hierdeur die kerk en die noodwaterpunt in tye van nood te voed.

Volgens Bekker het AfriForum ’n formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan Rand Water gerig om duidelikheid te kry oor die hoeveelheid water wat gepomp word en spesifieke inligting rakende herstelwerk wat die organisasie kan help om die waterkrisis beter te bestuur.

“Daar is geen ekstra kapasiteit vir water op die netwerk beskikbaar nie. Die oomblik wat ’n probleem die netwerk raak, word inwoners onmiddellik negatief geraak.

“Rand Water en die munisipaliteit sal die waarheid met mekaar moet praat, want dit is duidelik dat Rand Water nie meer die kapasiteit het om almal te help nie.”

Morgenzon is nie agterweë gelaat as dit kom by waterprobleme nie en inwoners moet tevrede wees met vuil drinkwater wat ondrinkbaar is.


LEES OOK: What do you think about service delivery within the Victor Khanye Municipality?


AfriForum het op 16 April boodskappe ontvang van Morgenzon-inwoners dat hul water bruin en ondrinkbaar is wanneer dit by die krane uitkom.

Volgens Bekker, het Morgenzon-inwoners in Januarie ’n soortgelyke situasie ervaar. Ermelo-inwoners se water was op 15 April ook vuil en het ’n geel skynsel gehad.

“AfriForum rig nou dringende skrywes aan die munisipaliteite om dringende ingryping te versoek om die situasie reg te stel en in die toekoms te voorkom,” het Bekker gesê.

“AfriForum is bekommerd dat, ongeag hoe ’n munisipaliteit verkies om water aan inwoners te verskaf, deur sy eie bronne en aanlegte of deur gebruik te maak van ’n massa-water verskaffer soos Rand Water, bly inwoners se watervoorsiening bitter onbetroubaar.

“As inwoners water het, is die gehalte swak of mense het doodeenvoudig vir dae of weke lank geen lopende water nie. In ieder geval word inwoners aan hul eie genade en die barmhartigheid van ander oorgelaat.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button