Kleinfontein kom in die spervuur van die rooi berette
“Die onlangse optog van die EFF na Kleinfontein het nie net plaaslike reaksie ontlok nie, maar het nou ook internasionale aandag getrek.”
Die Afrikaner kultuurdorp, Kleinfontein, geleë net buite Rayton in die Donkerhoek omgewing, is in die spervuur.
Buiten onlangse skynbaar onredelike boetes weens beweerde onbehoorlike grondgebruik registrasie en buitensporige verhogings in eiendomsbeslating, het die EFF (Economic Freedom Fighters) ook besluit dat dié kultuur nedersetting se bestaan ’n beeld van die voorsetting van rassisme uitdra.
’n Opmars na Kleinfontein van lede van die EFF het op 2 Mei plaasgevind.
Dié opmars, vooraf goedgekeur deur die Stad van Tshwane, het gepaard gegaan met die verniel van die dorp se naamletters by die ingang, onder andere die woorde ‘Ons God’, die strooi van rommel en die skoonmaak en herstel deur Kleinfontein se inwoners daarna.
Kleinfontein bestuur en direksie het in ’n mediverklaring op 3 Mei die ‘onbesonne, aggressiewe en vernietigende wyse’ waarop die EEF na die Kleinfontein opgeruk het, veroordeel.
“Ten spyte van ’n mondelingse onderneming van ’n EFF afvaardiging om ’n afspraak te maak en deel te neem aan konstruktiewe dialoog, het die EFF verkies om die pad van konflik te loop,” lui die verklaring verder.
“Kill the Boer was ook weer gesing – ’n daad wat as doelbewuste provokasie teenoor die vreedsame gemeenskap van Kleinfontein geïnterpreteer kan word.”
As selversorgende gemeenskap waar alle werk self verrig word, elektrisiteit verspreiding-, watervoorsiening-, paaie en riool infrastruktuur alles self bestuur en eiendomsbelasting aan Tshwane betaal word, het een spreker glo ook beweer dat
Kleinfontein van swart arbeid gebruik maak, maar behuising aan hulle weier wat die Klienfontein gemeenskap aan apartheid sou gelykstel.
“Ons verwerp hierdie blatante leuenagtige beskuldiging met die minagting wat dit verdien. Uit die toesprake was dit duidelik dat die EFF geen werklike kennis van ons gemeenskap het nie,” lui die bestuur en direksie verklaring.
Uit eie geledere het raadslid vir Wyk 100, Johannes Bekker, bekend vir sy aktiewe bevordering van kultuurerfenis en gemeenskapsontwikkeling, ook sy stem oor die Kleinfontein saga laat hoor.
“Die onlangse optog deur die EFF na Kleinfontein het nie net plaaslike reaksie ontlok nie, maar het nou ook internasionale aandag getrek,” het Bekker gesê.
Volgens Bekker het hy in ’n betekenisvolle gesprek met ’n lid van die Vlaamse parlement, Kristof Slagmulder, getree.
“Hiertydens is dit duidelik gemaak dat die aanval op ’n kultuurdorp soos Kleinfontein deel is van ’n groter wêreldwye debat oor kulturele selfbeskikking en gemeenskapsregte.
“Ek verwelkom die gesprek as ’n belangrike geleentheid om Kleinfontein se unieke model van selfstandige kulturele ontwikkeling aan die wêreld te verduidelik.
“Ons moet besef wat hier gebeur, resoneer met gemeenskappe regoor die wêreld wat hul identiteit probeer beskerm,” het Bekker Streeknuus meegedeel.
Streeknuus is ook in besit van skrywes tussen Bekker en Slagmulder.
“Ik wil u persoonlijk bedanken voor het stellen van kritische vragen en voor uw steun aan Zuid-Afrikaners die momenteel onder druk staan.

“Onlangs organiseerde de EFF-partij een massale optocht naar Kleinfontein, gelegen in de hoofdstad van Zuid-Afrika, met als doel de Afrikaanssprekende gemeenschap te veroordelen.
“Uw stem in deze kwestie brengt broodnodige internationale aandacht en solidariteit, en dat wordt ten zeerste gewaardeerd,” lui ’n gedeelte vanuit een van die skrywes in Vlaams vanaf Bekker aan Slagmulder.
Slagmulder het op sy beurt in Afrikaans geantwoord en onder andere gesê: “Die dreigende optog van die EFF na Kleinfontein is ’n ontstellende voorbeeld van die aanhoudende intimidasie teen gemeenskappe wat hul taal, kultuur en identiteit wil behou.
“Sulke optredes, tesame met die opruiende retoriek van EFF leiers, verdien wye internasionale aandag en skerp veroordeling. Ek bevestig hiermee dat ek die situasie in en rondom Kleinfontein onder die aandag sal bring tydens die verdere parlementêre debat oor my voorstel van resolusie in die Vlaamse Parlement.”
LEES OOK: Standerton residents attend Budget and IDP meeting at town hall
Bekker het verder beklemtoon die gemeenskap se reg tot selfbeskikking, kulturele uitdrukking en vreedsame samehorigheid gewaarborg moet word in ’n demokratiese bestel.
“Ek roep op tot respekvolle dialoog en verantwoordelike optrede wat alle Suid-Afrikaners se regte respekteer,” het Slagmulder verder geskryf.
“Die wêreld kyk dus nou na Kleinfontein, nie as ’n geïsoleerde gemeenskap nie, maar as ’n simbool van grondwetlike regte en kulturele vryheid.” het Bekker afgesluit.
Kleinfontein bestuur en direksie het hul waardering teenoor die SAPD en metro polisie uitgespreek vir die hantering die dag van die optog.
“Sodoende was daar verhoed dat ’n openlike demostrasie van rassehaat verder plaasvind.”
LEES OOK: AfriForum beveilig Standerton se substasie al vir twee jaar met kameras



