Local newsNewsStreeknuus

Wen-sjef ontdek sy liefde vir kos op Delmas

Lourens Engelbrecht glo die kombuis is ’n plek waar vriendskappe gesmee word.

Lourens Engelbrecht (37) se romanse met kos het op Delmas begin toe hy destyds by juffrou Marlien Pretorius se huishoudkunde klas ingestap het.

“Ek en twee van my vriende het vir die grap besluit om eerder huishoudkunde as houtwerk te kies,” het dié wenner van die Kokkedoor Vuur & Vlam tweede seisoen op KykNet vertel.

Engelbrecht, kinkelbraaier, deel die wentitel en prysgeld van R1m met sy spanmaat, Johan de Villiers (30), die operasionele bestuurder van ’n familieplaas, Klein Roosboom in Durbanville.

Volgens Engelbrecht was daardie huishoudkundeklas aan Hoërskool Delmas die plek waar die kosmaaksaadjie geplant is.

“Ek en Adriaan, een van my vriende, het jare later aan die perskes wat ons in die klas ingelê het, gesmul. Dit was ’n wonderlike oomblik,” het Engelbrecht vertel.

Sy ouers woon steeds in die Delmas-omgewing en hy en sy gesin probeer om wanneer die geleentheid dit voordoen, op die dorp te kom kuier.

Hy woon saam met sy vrou Jerelize en hul vyfjarige seuntjie, Luan, in Pretoria, maar Engelbrecht se werk as vryskutsjef neem hom gereeld na twee eksklusiewe lodges in die Waterberg waar hy etes vir buitelandse gaste voorsit.

Tuis word die fynprower-geregte meestal verruil vir wat in klein Luan se smaak val.

“Ek eksperimenteer egter gereeld tuis met nuwe idees en geregte. Ons geniet ook ’n braaivuurtjie op ’n Sondagmiddag, ” het Engelbrecht vertel.


Die wenner van Kokkedoor Vuur & Vlam, sjef Lourens Engelbrecht, se liefde vir kosmaak het op Delmas begin. Foto: KykNet

Hy braai veral graag heel hoender, al spot-kla Jerelize dat dit nou te veel raak.

“Ek voel nie dat ek al heeltemal my tegniek met hoender oor die kole bemeester het nie,” het hy verduidelik.

Engelbrecht glo die kombuis is ’n kuierplek en dit is hier waar hy en Jerelize saam is wanneer daar vir die gesin kos gemaak word.

“Ons werk en kuier saam in die kombuis. Die kombuis is waar vriendskappe gesmee word, kyk maar na die vriendskap wat ek en Johan hier gebou het.”


LEES OOK: New contractor begins work on Albert Luthuli Drive in eMbalenhle


Kokkedoor Vuur & Vlam was nie die eerste kompetisie waaraan Engelbrecht al deelgeneem het nie, maar dit was beslis die strafste.

“Die kompetisie het vir drie weke aangehou en was boonop met die kameras heeltyd op jou. Ek moes my woorde tel. Johan was die een wat my kon kalm hou en ons het goed gekliek.”

Die twee het juis hul vriendskap en spanwerk ná die kompetisie voortgesit. Hulle maak reeds planne om in die toekoms weer saam te kook.

Intussen beplan Engelbrecht reeds aan ’n eerste langtafel-ete wat in die begin van Junie in die ooste van Pretoria gehou word.

“Dié eerste langtafel met 40 gaste is maar klein, maar ons beoog om naderhand groter te gaan.”

Engelbrecht is die middelste van drie kinders en hierdie neutrale gebied is ook waar hy verkies om te bly wanneer hy gevra word wie die beter kok in sy ouerhuis op Delmas was.

“Ek is Switserland op hierdie vraag,” hy gelag.

Hy praat dan maar eerder oor hoe spesiaal die boodskap van gelukwense was van juffrou Marlien en sy ander onderwysers en alma mater toe hy met die Goue Haan weggestap het.

Volg Engelbrecht op sy Facebookblad, Chef Lourens.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button