Delmas Krieketklub byt in die stof teen Mavericks
Delmas het reeds vroeg in die wedstryd paaltjies verloor en was na die vierde boulbeurt met drie paaltjies vir sewe lopies, in die moeilikheid.
Delmas krieketklub het op 18 Mei teen die span van die Mavericks Cricket Club in die Mpumalanga T20-winterliga te staan gekom.
Die wedstryd het op Delmas se tuisveld by Hoërskool Delmas plaasgevind. Delmas het die loot gewen en besluit om eerste te kolf.
“Met Mavericks se akkurate boulwerk het die manne van Delmas swaar getrek,” het Cliffard Gerber, laat hoor.
Delmas het reeds vroeg in die wedstryd paaltjies verloor en was na die vierde boulbeurt met drie paaltjies vir sewe lopies, in die moeilikheid.
LEES OOK: Gholfers durf die baan aan by Ons Radio gholfdag op Standerton
Delmas het stadig gekolf op ’n blad ten gunste van die opposisie en kon na 20 beurte 102/9 aanteken. Delmas se Mirza Iylas was die enigste Delmas-kolwer wat met 28 lopies uitgeblink het.
“Die telling was laag om te verdedig, maar die boulers van Delmas het moedig teruggeveg. Ster-bouler Eugene Alberts het gewys hoekom hy tans die top-bouler in die toernooi is en uitgeblink met ’n 3/16,” het Gerber bygevoeg.
Mavericks het Delmas aan die einde van die wedstryd met vyf paaltjies geklop. Delmas Krieketklub en sy bestuur nooi belangstellende krieketspelers, oud of jonk, om by hulle aan te sluit.
Vir meer inligting kan die kaptein Tyrone Greyling by 082 460 8220 of Kobus Naudé by 072 309 0008 geskakel word.
LEES OOK: Parkrunners do not fear chilly mornings, misty days in Standerton



