Monica Calder geniet dit om naaldwerk te doen en met haar hande te werk. Sy maak enige iets van komberse, voorskote en inkopiesakke tot teddiebere. Dit wat sy nie kan maak nie, leer sy om te maak.
Dié droom om haar eie onderneming te begin, is uiteindelik verwesenlik toe sy verlede jaar besluit het om by Sasol te bedank en haar eie ding te doen. Sy het vir 19 jaar by Sasol gewerk en 13 aarvan as opleidingskoördineerder.
Sy het haar entrepreneurskap vaardighede op skool reeds ontdek toe sy destyds uitruil blaadjies mooigemaak het en dit dan verkoop het.
Calder maak deesdae teddiebere vir iemand wat byvoorbeeld klere van hul oorlede geliefdes wil hou as ’n aandenking of van matriek leerders se baadjies as hulle klaarmaak met skool.
Dié teddiebere staan as ‘Memory Bears’ bekend. Sy huil en lag gereeld saam met die mense as hulle hul stories vertel oor hoekom hulle ’n ‘Memory Bear’ soek.
“Dit is vir my bevredigend om die beer vir hulle te gee as ek klaar is met dit,” het Calder vertel.
Sy geniet dit om mense se interessante stories te hoor en geniet die interaksie met mense. Calder kan ook enige ontwerp op spoegdoeke, komberse, tafellopers en plekmatjies druk. Sy is kreatief en het gesê sy het nog altyd daarvan gehou om dinge mooi te maak.
“Ek werk hard, maar ek geniet dit,” het Calder gesê.
Sy het haarself geleer om naaldwerk te doen en haar buurvrou, Charmaine Williams, het haar geleer hoe om borduurwerk te doen.
Calder kan hekel ook en het op ’n stadium seekatjies vir pasgebore baba’s gehekel. Sy hou van tuinmaak en reken wie hou nie van ’n mooi tuin nie.
Haar volgende doelwit is om ’n trui vir ’n volwassene te brei. In haar vrye tyd bestee sy graag tyd saam met haar man en die egpaar se twee volwasse kinders.
LEES OOK: Donate to raise money for babies and children in Secunda area
LEES OOK: Lekwa resident relocated after getting trapped in her home




