Raytie-meisies skaats sierlik by nasionale kampioenskap
“Elmary en Taria het teen skaatsers van regoor die land te staan gekom en die kompetisie was straf.”
Twee van Rayton se jong inwoners, sussies Elmary (13) en Taria (10) Coetzee, het aan die SAFSA Nasionale Sierskaatskampioenskap deelgeneem en uitstekend gevaar.
Die kompetisie het vanaf 3 tot 6 Mei by Forest Hill yskaatsbaan in Centurion plaasgevind.
“Elmary en Taria het teen skaatsers van regoor die land te staan gekom en die kompetisie was straf,” het Yolandi Coetzee, die twee dogters se ma gesê.
Taria het ’n uitstekende vertoning gelewer en in die tweede plek in die juvenile high performance-afdeling geëindig.
“Taria het haar vertoning met presisie en baie grasie uitgevoer,” het Yolandi bygevoeg.

“Haar toewyding op die ysbaan het vrugte gepluk en Taria was verheug om te besef dat haar harde werk en toewyding vir haar ’n plek op die podium besorg het.”
Sus Elmary het in die pre-novice high performance-afdeling meegeding waar tegniese- sowel as elegansie-vaardigheid op die ys gedemonstreer het.
“Elmary groei steeds as ’n talentvolle meededinger in dié sport. Albei my dogters het merkwaardige toewyding getoon en tallose ure aan oefening bestee,” het Yolandi gesê.
“En die twee se sukses by die nasionale kampioenskap glo ek is ’n duidelike weerspieëling van hul passie en deursettingsvermoë,” het ’n trotse ma afgesluit.
Onder die vaandel van die Gauteng-Noord sierskaatsassosiasie is Elmay en Taria beide lede van die klub Evolution on Ice en oefen gereeld onder die bekwame hande van afrigters, Konrad en Yolande Giering, by die Grove Ice Rink in Pretoria.






