Vrou vir 10 jaar agter tralies na sy skool op Delmas besteel
Die vonnis volg nadat Vern skuldig gepleit het op 649 aanklagte nadat sy sowat R2.8m uit Laerskool Delmas se bankrekeninge verduister het.
Die hof het ’n kort en kragtige vonnisoplegging gelewer nadat Larissa Vern en haar regsverteenwoordiger ’n pleit-en-vonnisooreenkoms met die staat bereik het.
Daar was 649 klagtes teen Vern aangebring.
Vern is op klagtes een tot 94 van bedrog tot 15 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat sy haar nie weer aan bedrog skuldig maak nie.
Vir die oorblywende 555 klagtes van geldwassery is sy tot ’n verdere 10 jaar tronkstraf gevonnis. Die twee vonnisse sal gesamentlik uitgedien word.
By die hof teenwoordig was Vern se suster, Cindy Vern, asook personeel van Laerskool Delmas. Vern se twee dogters was nie ten tye van die vonnisoplegging by die hof nie.
LEES OOK: Women discuss critical community issues at caucus in Standerton
Die vonnis volg nadat Vern skuldig gepleit het op 649 aanklagte waar sy sowat R2.8m uit Laerskool Delmas se bankrekeninge verduister het.
Vern, wat sedert Januarie 2022 as finansiële beampte by Laerskool Delmas werksaam was, het oor ’n tydperk van ongeveer ’n jaar vals inskrywings ten opsigte van betalings aan die skool se krediteure gemaak.
Die skool se geld is in drie van Vern se Capitec-rekeninge inbetaal. Volgens inligting het sy ’n uiters spandabelrige lewe met hierdie gesteelde geld gelei.
Duur items is glo aangekoop, waarvan verskeie as geskenke weggegee is.
Vern het op vlug geslaan en op ’n plaas in die Thabazimbi-omgewing skuiling gesoek. Sy is op 9 Februarie 2023 deur lede van die Valke op Secunda, in samewerking met die Delmas SAPD, in hegtenis geneem.
LEES OOK: Hoërskool Standerton se hoofseun vaar goed in ATKV redenaarskompetisie
Vern was sedert haar inhegtenisneming in aanhouding nadat verskeie borgaansoeke onsuksesvol was.
Die Vern-sage is egter nog nie op ’n einde nie, want teen druktyd is Vern deur die hof gelas om op 5 Junie, kragtens artikel 18 van die POCA-wet, Wet No. 121 van 1998, weer in die hof te verskyn.
Die verskyning het ten doel om onroerende bates in die gesamentlike naam van Vern en haar suster te verkoop, ten einde die skuld aan die laerskool te delg.
Intussen bly Vern se twee dogters steeds by ’n familielid. Laerskool Delmas se skoolhoof, Johan Pieterse, het aan Streeknuus meegedeel dat hy en die skool baie dankbaar is dat geregtigheid geskied het.
“Ek bedank die staatsaanklaer Gustav Schult vir al die moeite, harde werk en lang ure wat hy ingesit tydens die skool se saak teen Vern,” het Pieterse gesê.



