Local newsNews

Sjef van Secunda ‘kook’ in Drukkoker-program

Hanroe Erasmus wys sy vaardighede op televisie.

Hanroe Erasmus (43) van Secunda is tans te sien op die Via-kanaal se realiteitsprogram Drukkoker. In dié program word sjefs en restaurantbestuurders uitgedaag om hul vaardighede te bewys en stry hulle vir ’n prysgeld van R300 000 om ’n restaurant of onderneming te begin.

Erasmus het verlede jaar reeds aan die nuutste Kokkedoor-reeks deelgeneem en was gekies vir die finale uitdunronde, maar het toe onttrek toe sy vrou, Kirsten, met borskanker gediagnoseer is.

Hy het toe sy fokus geskuif om haar te ondersteun. Sy is nou in remissie en wag binnekort vir haar eenjaar-roetine-ondersoek.

Toe Erasmus die advertensies vir Drukkoker sien, het hy dadelik weer ingeskryf. Die opname het in Maart in die Kaap plaasgevind, waar deelnemers vyf weke lank moes wees.

“Drukkoker is nie jou gewone kookprogram nie. Net as jy dink jy weet wat gaan gebeur, draai dit heel anders uit. Dit gaan nog baie interessant raak vir kykers,” vertel Erasmus.

Dit was moeilik vir hom en Kirsten om vyf weke van mekaar geskei te wees, want sy moes alleen hul winkel, Genade Shoppie, bestuur. Erasmus kon egter snags, wanneer nie verfilm is nie, help met spyskaarte en administratiewe werk via sy skootrekenaar en foon.

Hy kan nie te veel oor die program verklap nie, maar sê daar wag nog verrassings en kinkels in die kabel vir kykers. Erasmus se loopbaan as sjef het jare gelede by die Dros Restaurant begin, omdat hy nie ’n kookskool kon bekostig nie.

Hy het as kelner begin en gereeld tyd in die kombuis deurgebring, ook as vrywilliger. Hy het later by verskeie toprestaurante en hotelle in Gauteng, Hoedspruit en Sun City gewerk, waar hy ook sy vrou ontmoet het.

Met die geboorte van hul twee kinders, nou twee en vyf jaar oud, het Erasmus ’n stadiger pas ingeslaan, omdat die gasvryheidsbedryf baie lang ure verg.


LEES OOK: Boy from Secunda faces new health setbacks as family seeks second opinion


Tydens die Covid-19-inperking het hulle besluit om na sy ma se plaas, Genade Plaas buite Secunda, te trek. Dit is toe dat die Genade Shoppie ontstaan het, nadat hy gehoor het die Hyatt Regency Hotel waar hy gewerk het, sluit.

In sy vrye tyd beoefen Erasmus boogskiet saam met sy seuntjie en hy het vanjaar sy rooi seël as sjef behaal – die eerste in Mpumalanga. Dié kursus, wat normaalweg drie jaar neem, het hy in net ses maande voltooi. Die rooi seël-inisiatief is eers in 2021 bekendgestel en is gelykstaande aan ’n ambagsertifikaat.

Erasmus het ook verskeie ander prestasies behaal. In 2013 het hy deelgeneem aan die ‘Jack Daniels World Food Championship’ in Amerika, waar hy saam met ’n span 28ste uit 400 spanne geëindig het.

Dieselfde jaar het hy die prys vir die beste restaurant by die ‘Taste of Joburg’-fees gewen. Hy het sy kookvaardighede reeds van jongs af by sy ma en ouma geleer en deur televisieprogramme te kyk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button