AfriForum reik uit in Bethal vir Kinderbeskeringsweek
Kenners lig leerders in oor gevare van sosiale media.
AfriForum se Bethal-tak het vroeg in Junie, as deel van hul strewe om kinderwelsyn te bevorder, saam met die National Centre for Child Protection (NCCP), die SAVF en die GPF, ’n bewusmakingsprojek van stapel gestuur.
Die inisiatief, wat tydens Kinderbeskermingsweek plaasgevind het, het besoeke aan drie skole op Bethal ingesluit. Leerders en onderwysers is toegespreek oor sosiale media, die aanlyn voetspore wat kinders agterlaat, en algemene boeliegedrag.
Danie van Loggerenberg, stigter en direkteur van die NCCP, het saam met AfriForum en die SAVF meer as 900 leerders by Laerskool Marietjie van Niekerk, Laerskool HM Swart en Tadashi Akademie toegespreek. Daar is spesifiek gefokus op die gevare van sekere gewilde toepassings wat deur kwaadwilliges gebruik word om kinders te manipuleer en met vreemdelinge in gesprek te bring.
Praktiese demonstrasies het leerders getoon hoe maklik hulle mislei kan word en hoe belangrik dit is om versigtig te wees aanlyn.
LEES OOK: Community calls out Govan Mbeki Municipality over dangerous pole
Benewens kuberveiligheid is daar ook gefokus op boeliegedrag en hoe leerders gesonde maniere kan aanleer om met uitdagende emosies en situasies om te gaan. Die boodskap was duidelik: soek eerder hulp by onderwysers of ouers as om frustrasie op ander leerders uit te haal.
“Baie van die toepassings wat kinders gebruik, lyk onskuldig, maar ouers is dikwels onbewus van die gevare. Met die regte kennis kan kinders en ouers saamwerk om hierdie gevare te vermy,” het Van Loggerenberg gesê.
Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, het bygevoeg:
“AfriForum is dankbaar vir die samewerking met die SAVF en NCCP, en trots om deel te wees van ’n poging om ons grootste bate – ons kinders – te beskerm.
“In vandag se wêreld is daar talle gevare wat kinders bedreig, en sonder hierdie tipe inligtingsessies sou dit moeilik wees om hulle werklik te beskerm.”



