Voorsitter nooi jou na 30ste Val Boeredag
Johan van Dyk is vanjaar die voorsitter van Val Boeredag, ’n instelling wat hy 30 jaar gelede as kind leer ken het.
Die 30ste Val Boeredag vind vanjaar op 2 Julie plaas, en jy is genooi om dit by te woon.
Dié jaarlikse gebeurtenis, wat altyd op die eerste Woensdag in Julie by Val plaasvind, is bekend vir die praktiese demonstrasies waar boere eerstehands die werkverrigting van nuwe landboutoerusting en tegnologie kan beleef.
Johan van Dyk is vanjaar die voorsitter van Val Boeredag, ’n instelling wat hy 30 jaar gelede as kind leer ken het.
Hy deel die volgende:
Vir drie dekades het Val Boeredag ’n platform gebied waar boere, produsente en landbou-entoesiaste van regoor Suid-Afrika saamkom om kennis te deel, nuwe tegnologie en produkte te ontdek, en mekaar te versterk as ’n gemeenskap.
Dis ’n tyd om nie net die prestasies van die verlede te vier nie, maar ook vorentoe te kyk na die uitdagings en opwindende moontlikhede wat die toekoms vir die landbou inhou.

Praktiese demonstrasies bly die kern van ons geleentheid, en ons is trots daarop dat Val Boeredag die grootste praktiese landbou-demonstrasiedag in Suid-Afrika is.
Nêrens anders kry jy soveel aksie, insig en werklike toepassings van nuwe tegnologie op een dag nie. Vanjaar beloof om ons beste nóg te wees, met ’n wye verskeidenheid uitstallings, geselsgroepe, kennissessies en natuurlik baanbrekende demonstrasies.
Besoekers kan uitsien na die nuutste landboumasjinerie, volhoubare boerdery-oplossings en praktiese insigte oor hoe tegnologie ons plase transformeer.
Moet ook nie die trekkers misloop nie. Ons bring vanjaar weer die geliefde veteraan-trekkers terug vir ’n spesiale demonstrasie – ’n huldeblyk aan die geskiedenis van boerdery.
Dis ook die jaar van die knakkers: kom sien die nuutste, grootste en kragtigste trekkers in aksie – werksperde wat wys waarheen moderne landbou oppad is.
Die vroue word bederf met ’n spesiale en inspirerende program, met optredes deur die gewilde kunstenaars Francois Boyce en Willem Botha – ’n stylvolle huldeblyk aan die belangrike rol van boerevroue in landbou en gemeenskap.
Die jongspan kan hul gate uit geniet in die Plaasjapie Pretpark – ’n veilige, prettige ruimte propvol aksie, spesiaal vir kinders.
Wanneer die trekkers stilhou en die stof gaan lê, skop die vermaak regtig af – met optredes deur Robbie Wessels en Ricus Nel, twee van Suid-Afrika se grootste musieksterre.

Die dag word aanmekaar gepraat deur die energieke en geliefde Hammie Wessels, ons seremoniemeester, wat humor en geesdrif van begin tot einde sal bring.
Die hekke open om 08:00 met die amptelike opening om 09:00 in die Afgri-hooftent, waar heerlike pryse op die spel is, insluitend kaartjies vir die opwindende wedstryd tussen Australië en die Springbokke.
Toegangskaartjies is by die hekke beskikbaar, maar ons moedig besoekers aan om hul kaartjies aanlyn teen ’n goedkoper prys op iTickets te koop.
Kliek op die skakel op ons webblad of Facebook-blad vir meer inligting en toegang tot kaartjieverkope. Dis ’n dag vir die hele gesin – ’n geleentheid om saam te leer, saam te kuier en saam te groei.
Kom ervaar die waarde van samewerking en leer by van die beste in die bedryf – want saam bou ons ’n sterker, meer innoverende landbougemeenskap.
Baie dankie vir jou lojale ondersteuning deur die jare. Laat ons hierdie 30ste verjaarsdag met trots vier en met nuwe inspirasie vorentoe beweeg.”




