AfriForum se plaaslike tak het in Mei weer verskeie projekte aangepak om dié dorp skoner te maak en op te knap. Volgens Hennie Bekker, AfriForum distrikskoördineerder vir die Hoëveld, het hulle gras gesny in dele van Bethal.
“Die skoonmaakprojek in Du Plooystraat, in die sentrale sakekern, is voortgesit. ’n Groot bos op die hoek van Percy de Kock- en Du Plooystraat is verwyder,” het Bekker gesê.
“Dié bos het die sypaadjies aan weerskante van Du Plooystraat toegegroei en ’n risiko ingehou vir die bejaardes van die Silwerjare Tehuis wat te voet of met behulp van mobiliteitstoerusting heen en weer tussen die tehuis en die Spar-winkelsentrum beweeg het.”
Dié tak het ook die reuse slaggat voor die ingang van die Spar-winkelsentrum herstel. Hulle het hiervoor 38 sakkies teer gebruik.
Verder het AfriForum ook namens inwoners van Simonstraat slaggate in dié straat, tussen Malherbe- en Wockestraat, gevul.
“Die inwoners het ons gekontak en die teer geborg om die gate voor hulle huise te herstel.”
Daar is 90 sakke teer vir dié projek gebruik. Inwoners van Tsibitso Sibanyonistraat het ook AfriForum gekontak om hulle met slaggatherstelwerk in dié straat, tussen Wocke- en Kieserstraat, te help.
Daar is altesaam180 sakkies teer tydens dié projek gebruik. Die res van Tsibitso Sibanyonistraat, tussen die N17 en Van Riebeeckstraat, word nou herstel.
“Inwoners wat graag slaggate wil herstel, kan ons kontak. Hou egter in gedagte dat sekere strate nie meer herstelbaar is nie. Dit is wel belangrik dat ons red wat nog te redde is,” het Bekker gesê.
Verder het die tak ook die N17-sypaadjies reg deur die dorp skoongesny. Dié pad is die belangrikste hoofroete deur die dorp en skep ook die eerste indruk wat besoekers van Bethal kry. Van die gras het so hoog gegroei dat voetgangers eerder in die straat geloop het, wat ’n groot veiligheidsrisiko inhou.
“AfriForum is dankbaar om die verskil in Bethal te maak én te wees. Dit is ooglopend in watter dele van die dorp ons werksaam is en daarvoor is inwoners ewig dankbaar.”
LEES OOK: Pastor from Standerton finds redemption after life of addiction
LEES OOK: Lekwa Municipality urges united community action on drug abuse




