Rayton se Miané maak haar land trots tydens internasionale kompetisie
“Ons Miané bring dus vir Suid-Afrika en vir Rayton drie trofeë huis toe en ons is ongelooflik trots op haar.”
Miané Müller (10) van Rayton het gedurende Julie Suid-Afrika met trots verteenwoordig in die Royal Miss SA Sweetheart-kompetisie in Orlando, Florida – en sy het uitstekend gevaar.
Soos vroeër in Streeknuus op 11 April berig, het haar ouers, Günter en Monique, aanvanklik besluit dat Monique modelwerk moes doen om haar selfvertroue te versterk. Dit was egter hul dogter, Miané, wat gou begin uitblink het.
Met reeds sowat 64 krone, talle trofeë en ander pryse agter haar naam, het sy haar plek in dié gesogte internasionale kompetisie verseker. Miané het ook in 2023 aan dieselfde kompetisie deelgeneem en ’n algehele vierde plek vir Suid-Afrika behaal.
Vanjaar het sowat 28 modelle van verskeie lande deelgeneem. Miané het eers die top-16 gehaal, toe deurgedring na die top-5, en is uiteindelik as tweede naaswenner in haar ouderdomsgroep aangewys.
“Maar dis nie al nie. Miané het boonop die eerste naaswenner-plek in die Royal Top Model-kategorie én derde naaswenner in die informele drag-kategorie verower,” vertel haar ma Monique trots.

“Ons Miané bring dus drie trofeë huis toe vir Suid-Afrika en vir Rayton. Ons is ongelooflik trots op haar,” het sy gesê.
Volgens Monique het Miané haar tydens die verhooginduksie en onderhoud uitstekend van haar taak gekwyt. Sy het met selfvertroue voor die beoordelaars verskyn en dit duidelik laat blyk dat sy die verhoog met gemak hanteer.
“Van vroegoggend opstaan vir hare en grimering, tot ure se voorbereiding en repetisie – sy het alles gegee, op en van die verhoog af. Dit was wonderlik om te sien hoe Miané gegroei het. Ons is bitter trots op haar,”
Miané sê sy wil met haar modelwerk ’n voorbeeld wees vir ander jong meisies – ’n toonbeeld van selfvertroue en innerlike sowel as uiterlike skoonheid. En volgens haar prestasies het sy beslis daarin geslaag.
Teen druktyd was ma en dogter op die vliegtuig op pad terug na Suid-Afrika – met drie trofeë in hul bagasie.
LEES OOK: Directors of Solly’s in Secunda appear in court for illicit cigarettes
LEES OOK: Lack of maintenance in Standerton causes roads to decay



