Sonskyn en Skadu betree die musiektoneel
Tamryn Archer en Zander du Preez is Sonskyn en Skadu. Hulle het op 4 Julie amptelik Sonsak vrygestel op alle musiekplatvorms.
Tamryn Archer (21) en Zander du Preez (21) vorm die dinamiese span van Sonskyn en Skadu, die nuutste duo op die musiektoneel.
Hulle het op 4 Julie hul eerste liedjie, Sonsak, op alle musiekplatforms vrygestel.
Archer en Du Preez het hul vriendskap reeds op skool begin toe hulle saam op Ermelo se Ligbron Akademie vir Tegnologie was, en werk al geruime tyd saam as musiekvennote.
Musiek het ’n groot rol in Archer se vormingsjare gespeel.
“Ek onthou my pa het altyd kitaar gespeel. Ek het grootgeword in ’n huis waar daar altyd ’n deuntjie was,” het sy verduidelik.
Archer was vir agt jaar deel van die Hoëveld Jeugkoor. Sy is tans ’n onderwyseres by Hoërskool Standerton waar sy Engels as eerste additionele taal aanbied. Volgens Archer is haar leerders haar grootste ondersteuners.
“Hulle het elke dag gevra wanneer die liedjie sou verskyn, en het selfs gehelp om ons naam, Sonskyn en Skadu, te kies,” het Archer verduidelik.
Dié naam het ook simboliek vir die duo.
“Almal gaan deur sonskyntye en skadutye in hulle lewens. Daarom is ons albei Sonskyn én Skadu,” het Du Preez gesê.
Du Preez is ’n musiekskrywer wat al vir drie jaar sy gedagtes verwerk tot melodieë. Hoewel hy oorspronklik van Standerton af kom, werk hy tans vir die International Mining Industry en woon in Secunda.
Sy liefde vir skryf het begin toe ’n sielkundige sy kitaar vir hom geleen het.
“Ek was nog nooit goed daarmee om emosies te deel nie, en om musiek te skryf het my gehelp om my emosies beter uit te beeld,” het Du Preez verduidelik.
Hy vind inspirasie in Zaan Sonnekus se filosofie van musiek skryf.
“Ek wil mense laat huil, skree en alle emosies laat voel,” het Du Preez verduidelik.
Du Preez se talent om woorde in melodieë te verwerk het hom na die groot verhoog gelei, waar hy vir die Piesangskille geopen het.
“Dit was middernag na daardie einste konsert toe ons aan Sonsak begin werk het,” het Archer verduidelik.
Ná ure se gesels, gehuil en gesing het die melodie van hul eerste liedjie uiteindelik lewe gekry.
Die duo het ’n paar weke later by Alwyn Bekker Studios die liedjie opgeneem. Archer en Du Preez was vir 10 ure in die studio vir die opname.
Volgens Du Preez was hierdie proses emosioneel, maar ’n ervaring wat hulle graag weer sou beleef.
“Hoewel die lang ure in die studio frustrerend geraak het, het ons deurgedruk. Die liedjie het vir ons albei baie beteken en Alwyn se ondersteuning het ons deur die sessie gedra,” het Archer verduidelik.
Sonskyn en Skadu is egter nie ’n een-treffer-wonder nie en werk reeds aan hul volgende treffer. Aanhangers kan ook uitsien na ’n liefdeslied aan die horizon.
Hulle was op 16 en 17 Julie weer in die studio om Leuens op te neem.
Vir aanlyn:
Luister Sonsak op YouTube:



