Local newsNewsStreeknuus

Sundra SAPD gee hul 67 minute vir Kosmos

“Ons hulpbronne is minimaal, maar saam probeer ons ’n verskil maak in die lewens van elke inwoner van Kosmos.”

Inwoners van die Kosmos Dienssentrum op Sundra is op 18 Julie op ’n besondere manier bederf toe die SAPD Sundra, Gemeenskap in Blou en lede van Sektor Forum 2 van Eloff hul 67 minute vir Mandela-dag aan die sentrum toegewy het.

Die verrigtinge is geopen deur adjudant-offisier Welma Kirby van die Sundra-polisie. Sy het die inwoners verwelkom en met hulle gesels oor die betekenis van Mandela-dag. Kirby het aangekondig dat die SAPD en hul vennote die hoofingangshek van Kosmos sou verf as hul daad van diens.

Sy het die inwoners aangemoedig om hul ouderdom positief te vier en elke dag vreugdevol deur te bring. Kirby het hulle ook ingelig oor die wet op die beskerming van ouer persone en beklemtoon dat enige probleme of mishandeling onmiddellik aangemeld moet word.

Michele Rautenbach het hierna ’n inspirerende boodskap aan die inwoners oorgedra.

“Mandela-dag hoef nie net een keer per jaar te wees nie. Dit kan elke dag wees. Gebruik elke dag om iets vir mekaar te doen en moenie bitter wees nie,” het sy gesê.

Sy het ook vir Elaine du Plessis, ’n lid van die beheerraad, bedank vir haar harde werk en toewyding aan Kosmos.

“Ons hulpbronne is beperk, maar saam probeer ons ’n verskil maak in elke inwoner se lewe,” het Rautenbach gesê.

Adjudant-offisier Petrus Mkwayi het bevestig dat die polisie baie omgee vir senior burgers en toegewyd is aan hul beskerming. Hy het beloof dat SAPD Sundra voortaan elke jaar op Mandela-dag die inwoners van Kosmos sal besoek.

Na afloop van die formaliteite het almal hande gevat om die hek se nuwe baadjie verf aan te gee.

In die agtergrond het die braaivleisvure begin brand, en onder leiding van Johannes Jansen van Rensburg het die reuk van worsbroodjies die lug gevul.nElke inwoner het ’n worsbroodjie en geskenk ontvang om die spesiale dag van omgee en diens af te sluit.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button