
AfriForum se plaaslike tak het vroeër vanjaar die Bethal Trots-inisiatief van stapel gestuur met die doel om die dorp skoon en netjies te maak.
“Ons wil hiermee weer die gemeenskap se trots in hul dorp aanwakker,” het Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, gesê.
AfriForum het in Junie verskeie projekte voltooi as deel van die inisiatief.
“Die projek het reeds goeie momentum gekry met verskeie ondernemings wat ingekoop het en ons ondersteun,” het Bekker bygevoeg.
Die projek word ongeveer tien dae per maand uitgevoer, en orals waar die buurtwagspan werk, is die verskil sigbaar. Volgens Bekker het die span in Junie vir die laaste keer dié winter die gras langs die N17, wat deur die dorp loop, gesny.
LEES OOK: Thieves leave helpless sheep to die in field near Charl Cilliers
“Hierdie belangrike hoofweg skep besoekers en motoriste se eerste indrukke van die dorp. Dit is ook noodsaaklik vir voetgangers se veiligheid dat die gras gesny word.”
Hy het benadruk dat dit belangrik is om mense se trots in hul omgewing te herstel.
“Die inwoners begin die verval en swak dienslewering aanvaar omdat hulle stadig maar seker daaraan gewoond raak en hul standaarde aanpas.”
AfriForum se buurtwagspan het ook die gras voor die plaaslike DBV in Jabulani Selepistraat gesny, ‘n area wat hulle al lank onderhou. Die gras om die Nestlé-brug, sowel as die gedeelte bo in Malherbestraat, is ook netjies gemaak.
LEES OOK: Govan Mbeki Municipality delays urgent upgrades despite free upgrade offer
Verder het die span ’n brandstrook om die DBV-perseel gesny. Kort daarna is die veld om die perseel aan die brand gesteek, maar die brandstrook het sy doel gedien en die diere en geboue beskerm.
“Vorige jare was brande om die DBV ’n probleem, maar hierdie keer was ons voorbereid,” het Bekker gesê.
’n Ander gebied wat aangepak is, is Du Plooystraat tussen die Silwerjare Ouetehuis en die SPAR-winkelsentrum. Dit is nou veiliger vir bejaardes wat dié roete na die winkelsentrum gebruik.
“Die inisiatief dra op verskeie maniere by tot mense se veiligheid. Dit is onaanvaarbaar dat mense en eiendomme aan gevare blootgestel word weens die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit se onbevoegdheid. Ons neem beheer van ons omgewing en sal self ons dorp herstel en in stand hou,” het Bekker afgesluit.



