Local newsNewsStreeknuus

Sierige skoenlappers vind veilige hawe op Rayton

“Ek het doelbewus besluit om laventel aan te plant, nie net vir sy aromatiese waarde nie, maar ook om ’n ruimte te skep waar skoenlappers én bye kan floreer.”

‘n Bekende inwoner van Cullinan, Johannes Bekker, ook bekend as die raadslid vir Wyk 100, was nuuskierig oor hoekom Rayton-inwoners foto’s neem van laventel, totdat hy die hordes skoenlappers gewaar het.

Navorsing, navraag en kundige hulp het gevolg en twee skoenlapperspesies was geïdentifiseer. Hierdie twee pragtige skoenlapperspesies uit die Acraea-familie: Acraea horta en Acraea neobule, word gereeld in die Rayton-omgewing opgemerk.

Volgens die skoenlapperkenner, Ivor Migdoll, kom daar minstens 19 Acraea-spesies in Suid-Afrika voor, maar net dié twee word gereeld in die Rayton-omgewing gesien.

Volgens Bekker is hierdie skoenlappers al opgemerk in tuine, langs paaie en selfs in die oop veld rondom Rayton.

Bekker het vertel dat ’n onlangse foto waarop drie Acreaes verskyn tot interessante gesprekke onder plaaslike entomologie-entoesiaste gelei het.

“Die skoenlappers op dié foto’s was as ’n mannetjie Acraea horta bevestig, bekend vir sy kenmerkende helder oranje vlerke met swart merke,” het Bekker gesê.

Die Acraea horta, in die volksmond bekend as die Tuinskoenlapper, het breër vlerke met ’n meer afgeronde vorm en verskyn dikwels in groter getalle in inheemse en gevestigde tuine.

Die Acraea neobule is kleiner en het vlerke wat dikwels ’n meer deurskynende voorkoms het, met fyn swart kolle. Volgens inligting speel albei spesies ’n belangrike rol in die ekostelsel deur hulle verbintenis met gasheerplante en hulle bydrae tot bestuiwing.

’n Derde spesie, Acraea rahira, wat ook in Suid-Afrika voorkom, verkies moerasagtige en baie klam habitats en is dus skaars in die Rayton-omgewing.

“Waarskynlik is dit hoekom dat die Acraea horta en Acraea neobule die mees waarskynlike besoekers aan ons tuine is.”

Die toenemende teenwoordigheid van die skoenlappers het Bekker aangespoor om laventelbosse by die Rayton munisipale kantore aan te plant.

“Dit is ’n baie eenvoudige, maar tog ook doeltreffende manier om ’n lushof vir die skoenlappers te skep,” het Bekker bygevoeg.

“Ek het doelbewus besluit om laventel aan te plant, nie net vir sy aromatiese waarde nie, maar ook om ’n ruimte te skep waar skoenlappers én bye kan floreer.”

Volgens Bekker bied die laventel nektar en veilige skuiling vir verskeie skoenlapperspesies.

“Boonop is laventel geurig en aantreklik vir mense.”

Die teenwoordigheid van skoenlappers is ’n goeie aanduiding van die gesondheid van ’n ekostelsel.

“Dit is ’n bewys van hoe klein ingrypings kan help om die natuur in stedelike ruimtes te herstel.”

Cullinan en Rayton bied boonop unieke grond-habitats, grasvelde en natuurlike veldstroke wat steeds ’n wye verskeidenheid van spesies huisves.

“Hierdie gebiede verdien aktiewe beskerming teen verstedeliking, strooibou en die uitwissing van inheemse plantegroei,” het Bekker bygevoeg.

“Die feit dat Acraea spesies steeds hier floreer, wys dat daar hoop is, maar dit vereis volgehoue gemeenskapsbewustheid en verantwoordelike ontwikkeling.”

Bekker het gesê die Rayton-gemeenskap het positief op die verandering gereageer.

“Dit is ons verantwoordelikheid om ons omgewing skoenlappervriendelik en leefbaar te hou – nie net vir ons nie, maar ook vir toekomstige geslagte.”

Bekker het die kenners bedank wat hom bygestaan het met die uitkenning en insiggewende inligting oor die natuur.

Bekker het inwoners aangemoedig om hul tuine skoenlappervriendelik te maak deur inheemse plante soos wilde vygies, passiebloeisels en laventel aan te plant.

“Dit help om hierdie spesies aan te trek én te beskerm.”


Die Acraea horta, of tuinskoenlapper, floreer op Rayton. Foto: Verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button