Spreekkamer in Standerton kry parkeerplekke vir gestremdes
Die AfriForum Standerton-Tak het buite die spreekkamer van ’n plaaslike dokter ’n parkeersplek vir gestremde persone opgerig.
Leon Enslin, voorsitter van die Standerton AfriForum-tak, het op 23 Julie ’n parkeerplek vir gestremde persone voor die spreekkamer van Dr Louw geverf.
Voorheen was die parkeerarea van die spreekkamer moeilik toeganklik vir gestremde pasiënte en moes hulle soms hindernisse soos die oorsteek van die pad en ’n lang ent na die spreekkamer hanteer.
“Die parkering voor die spreekkamer is klein en daar is min spasie vir pasiënte om te beweeg. Dit het dit nog moeiliker gemaak vir gestremde pasiënte om die spreekkamer te besoek,” het Enslin verduidelik.
Na ’n middag se verfwerk kan gestremde pasiënte nou makliker toegang kry tot die mediese hulp wat hulle benodig.




