Local newsNewsStreeknuus

Heidi vier ’n vrolike 60 jaar op Delmas

“Julle is die sterre wat raakvat en deel is van die groei én die mooi van Heidi.”

Heidi Kleuterskool op Delmas het op 26 Julie hul 60ste bestaansjaar gevier met ‘n spesiale funksie in die saal van Laerskool Delmas.

Hoof Riëtte Wheller het die gaste hartlik verwelkom en hulle bedank as spesiale vriende van Heidi. Twee oud-skoolhoofde, Nellie Fourie en Eugenie de Bruin, was onder die eregaste.

Wheller het die personeel met waardering toegespreek. “Julle is die sterre wat raakvat en deel is van die groei én die mooi van Heidi. Ek waardeer julle opreg.”

Sy het ook die bestuurslede bedank vir hul beplanning en ondersteuning in die reël van die oggend se verrigtinge.

“Aan al die Heidi-mammas wat gehelp het met bemarking en die verkope van kaartjies, baie dankie.”


Jeanette Scheepers in goeie luim tydens Heidi kleuterskool se 60ste verjaarsdag. Foto: Thia Botha

Verder is Maksimum Sekuriteit bedank vir hul bystand, asook Laerskool Delmas vir die gebruik van hul fasiliteite. “Daar is soveel instansies wat met ‘n oop hand bygestaan het. Baie dankie,” het Wheller gesê.

As verrassing vir die talle Delmassers wat die spoggeleentheid bygewoon het, het die bekende komediant, aktrise en motiveringspreker Matie van Graan opgetree.

“Toe ek vir Matie vra vir ’n paar gevleuelde woorde om haar aan die gaste voor te stel, was haar antwoord: ‘’n Huisvrou wat eintlik enige iets sal doen om nie voltyds in die huis te werk nie,’” het Wheller laggend vertel.

Daarna het Matie die verhoog betree en die gaste met haar spitsvondige sêgoed en kwinkslae vermaak. Die oggend is afgesluit met gesellige saamkuier, glimlagte, groot vermaak en heerlike sop en verversings – ’n gepaste viering van ’n geskiedkundige mylpaal in Heidi Kleuterskool se geskiedenis.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button