Secunda-vrou skryf eerste boek
A Woman's Apron gaan oor vrouwees, geloof en gee ook wenke oor huishouding.
Lezanne Raath-Titus (42) het nog altyd daarvan gehou om stories te vertel, maar nou het sy dit vir die eerste keer op papier neergepen in haar eerste boek, A Woman’s Apron.
Dié boek gee die leser ’n nostalgiese kykie oor vrouwees en hoe vroue vroeërjare dinge gedoen het in die huishouding.
“Die vroue van die Bybel het my geinspireer om die boek te skryf,” het Raath-Titus vertel.
Die boek sal die leser op ’n reis neem en laat voel of jy saam met jou ouma om die kombuistafel sit en kuier.
Dit is in vier dele geskryf wat familiegesegdes, geloof, en Raath-Titus se lewenspad insluit.
Sy geniet dit nog om soos die vroue van ouds, haar eie brood te bak, self deeg te knie en tyd te neem om dit te doen.
Sy het haar dogter, Lene, wat nou 21 is en onderwys studeer, ook geleer hoe om al hierdie dinge te doen.
“Dit dwing ’n mens in die gejaagde lewe om bietjie stil te raak en stil te staan.”
Raath-Titus se man, Mark, het spesiaal vir haar ’n vuuroond buite in hul tuin laat insit waar sy haar tuisgemaakte brood kan bak.
“Dit is ook vir my ’n doelbewuste manier om te onthou waar ek vandaan kom.”
Raath-Titus maak ook haar eie boerseep en botter en is lief daarvoor om gebottelde items te maak en te bêre.
Sy het ook haar eie groentetuin en dié gesin eet graag van hierdie groente.
Raath-Titus is reeds besig om aan haar tweede boek, A Woman’s Apron in the Attic, te skryf wat handel oor stories van ’n kelder en wat alles daar gebêre word soos onder andere ’n ou trourok.
In haar vrye tyd geniet Raath-Titus dit om in die tuin te werkskaf, te bak en brou, met waterverf te skilder, potloodsketse te maak, te skryf of om te hekel en brei.
Haar boek, A Woman’s Apron is by Clayjars Books and Gifts, die boekwinkel by die Kruik Kerk, beskikbaar teen R195 of op haar webwerf, awomansapron.com
Die e-boek weergawe kos R125.



