Local newsNewsStreeknuus

Pigs ‘n Paws buite Bronkhorstspruit is ‘n veilige omgee-hawe vir weggooi-varke

Elkeen van die varke het ’n naam, ’n hartseer geskiedenis, maar een ding in gemeen, Steyn het ’n besonderese band met elkeen van hulle.

Antionnette Steyn (56) is ‘n vrou met ‘n groot passie vir iets wat dalk nie vir almal sin maak nie, naamlik varke. Wanneer Steyn oor haar varke gesels, sprankel haar oë met opregte omgee en liefde vir hierdie wesens.

Steyn en haar lewensmaat, Nicky Malot, het voorheen restaurante in Pretoria besit.

“Ek was ‘n restauranteur, kompleet met gemanikuurde naels, netjiese hare en hoëhakskoene,” het sy oor haar lewe vóór die varke vertel.

Covid het gekom en die besighede moes weens die inperking sluit. Voor dit het iemand wat afvalkos by een van die restaurante kom haal het, ‘n piepklein varkie in ‘n boks daar gelos.

Spekkies was skielik in Steyn se sorg, en so het sy van Pigs ‘n Paws, ‘n nie-winsgewende organisasie, te hore gekom. Pigs ‘n Paws was reeds in 2004 deur Leslie Giles op die been gebring.

Sy het opgemerk in watter haglike omstandighede Leslie moes leef.

“Sy was bereid om alles op te offer vir haar varke en ander weggooi-diere. Daar was eenvoudig niks vir haarself nie,” het Steyn vertel.

Malot en Steyn het ‘n plaas tussen Cullinan en Bronkhorstspruit gekoop.

“Die idee was dat ek en Nicky sou aanhou werk en net deeltyds op die plaas sou wees. Min het ons toe geweet dat die Covid-pandemie en gevolglike inperking sou veroorsaak dat ons die restaurante verloor.”

Steyn woon sedertdien voltyds op die plaas terwyl Malot nog werk. Op dié plaas is daar verskeie bejaarde honde.

“Dit is Leslie se honde, want sy het ook na ‘n groot hoeveelheid weggooihonde omgesien; baie is weens ouderdom oorlede.”

Die plaas huisves verder ook sewe perde, twee beeste, drie skape genaamd Mary, Shaun en Biscuit, ‘n paar katte, makoue, Dash, die donkie en vele meer.

Daar is ook verskeie kampe met onderdakhokke wat dien as warm en droeë slaapplek vir die varke van alle soorte en groottes. Steyn se liefde vir elkeen van die 255 varke op die plaas is ooglopend.


Antionnette Steyn lei haar geliefde Stoffel na buite. Foto: Arisja Misselhorn

Elke vark het ‘n naam en ‘n hartseer geskiedenis, maar een ding in gemeen is haar besondere band wat sy met elkeen het. Opmerklik was die massiewe vark met die naam van Stoffel – daar is beslis ‘n baie noue band tussen Steyn en Stoffel.

Stoffel was tydens ‘n groot struweling uit ‘n kar se kattebak gered – hy sou geslag word.

Volgens Steyn was Stoffel ‘n baie klein varkie en was hy aanvaklik soos ‘n baba in die huis, kompleet met badtyd. Hy het self saam met ‘ma’ in die bed geslaap.

Sy vertel dat baie van die varke wat tans by Pigs ‘n Paws gehuisves word, eers troeteldiere was.

“Mense neem die klein en snoesige varkies as troeteldiere in, maar met geen besef dat hulle meestal regtig groot word nie. Varke is veeleisend. Hulle eet sonder ophou, kom nie altyd met honde klaar nie en van ‘n tuin bly daar niks oor nie.

“Met die nodige kennis, begrip en liefde, kan ‘n potbelly-varkie egter baie vreugde bring.”

Steyn het verder vertel dat van die varke ook by Pigs ‘n Paws beland wanneer hulle byvoorbeeld tydens vervoer van vragmotors en sleepwaens afval.

Een van die varke, Maybeline, was as proefkonyn in die skoonheidsindustrie gebruik.

“Dit is die hoogste vorm van wreedheid – die varke word gebruik vir die toetse vir verskeie produkte en dan doodgemaak. Maybeline was een wat gered kon word.”

Steyn raak opmerklik emosioneel as daar gepraat word oor die wreedheid waaronder varke soms geslag word.

“Hulle oorpunte word gekeep vir merkdoeleindes, babatande getrek en sterte afgesny. Dit alles sonder enige verdowing.”

Dié wreedheid wat sy moes aanskou het haar genoop om ‘n vegetariër te word. Steyn het vertel dat varke se leeftyd tussen 15 en 20 jaar is.
“Mense het so ‘n groot wanpersepsie oor varke.

“Hulle is eintlik baie skoon diere. Hulle doen nie hulle besigheid daar waar hulle slaap nie. Elkeen het sy eie unieke persoonlikheid, maar is nié troeteldiere nie.”


A woman standing next to a donkey in a field.
Antionnette Steyn en die donkie, Dash. Foto: Thia Botha

“Om vir hierdie varke te sorg bring egter baie groot finansiële uitgawes.”

Pigs ‘n Paws benodig sowat R100 000 per maand om operasioneel te bly en dit sluit nie veeartskostes en medisyne in nie.

Volgens Steyn beloop die varke se voer alleen sowat R2 000 per dag. Die beer varke word gesteriliseer om aanteel te stop.

“Sommige ly aan artritis en daar is maar ander siektes en beserings wat ook behandel moet word. Ek ry drie keer per week na die mark in Pretoria om vars groente en skille te gaan haal.

“Ons het aanbiedinge gekry om afvalkos by restaurante te gaan haal, maar met servette, plastiese eetgerei en tandestokkies tussenin is dit ongelukkig nie ‘n opsie nie.


A woman standing next to a black and white pig.
Antionnette Steyn lei haar geliefde Stoffel na buite. Foto: Arisja Misselhorn

“Vars gras en bale is ook baie belangrik en dit is baie duur. Ons betaal sowat R1 000 vir twee bale.

“Ons kry wel soms gras skenkings, maar dit moet in die meeste gevalle self gesny en gebaal word en ons het bloot net nie die toerusting of mannekrag nie.

“Ek het verskriklik baie verloor. Mense meen sekerlik soms dat my liefde vir die diere nie normaal is nie, maar ten spyte van die uitdaging om maandeliks finansieël deur te kom en ons varke te versorg, sal ek dit vir niks verruil nie.

“Die finansiële stryd is uit-dagend, maar tog is ek geseënd en gelukkig,” het sy afgesluit.

Pigs ‘n Paws, bestaande uit vier direkteure, het die 500 Hearts of Hope-projek begin en hoop om hulp te kry om hul maandelikse koste te dek.

Besoek hulle Facebook-blad op Pigs ‘n Paws Rescue en kyk hoe jy ‘n bydrae kan maak om die las te help verlig. Vir meer inligting kontak Antionnette by 082 492 6344.


Nuuskierige snoetjies word deur die draad gedruk. Foto: Arisja Misselhorn
Antionnette Steyn is hier by twee van die varke in haar versorging. Foto: Thia Botha
A black pig standing in the grass.
Hierdie varkie is die oudste op die plaas. Hy is byna 17 jar oud.Foto: Arisja Misselhorn

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button