Local newsNewsStreeknuus

Delmas Herleef bring steeds hoop

“Ons moedig daarom inwoners aan om te help met projekte deur arbeid te voorsien, self moue op te rol om of donasies te maak.”

Delmas Herleef se span vrywilligers het op 2 Augustus die strate van wyk twee in Delmas nuwe lewe gegee deur straatname met sjablone en verfkwaste aan te bring.

Ten spyte van die koue weer het die groep hul taak met durf en moed aangepak en selfs die spoedhobbels in die gebied oorgeverf.

Die inisiatief is deel van ’n reeks volgehoue pogings deur Delmas Herleef, onder leiding van dr. Martin Janse van Rensburg en Madel Fourie, om die dorp op te knap en sy gemeenskap te versterk. Wyksleiers is aangewys om probleemgebiede te identifiseer, waarna projekte van stapel gestuur word om dit aan te spreek.

Delmas Herleef het in 2023 landwyd erkenning gekry toe die dorp as kykNET se Dorp van die Jaar aangewys is. Die prysgeld wat toe gewen is, word nou kundig bestuur om gemeenskapsprojekte te finansier.


A man is standing in the open hole of a sewer.
Die bestuur van Delmas Herleef bring probleme soos dié gereeld onder die aandag van die plaaslike munisipaliteit. Foto: Thia Botha

Volgens Fourie het die werk ná die Makietie nie stilgestaan nie, want die doel bly steeds om Delmas ’n beter plek vir sy inwoners te maak en die dorp aantreklik te hou vir buitebeleggings en ontwikkeling.

Op die vraag watter verskil die organisasie in die dorp maak, het Fourie gesê dat rommelstrooiing steeds een van die grootste uitdagings is. Om dit te bekamp, is drie werkers aangestel om rommel op te tel en die sement-asblikke wat in die dorp geplaas is, gereeld leeg te maak.

Tog is daar steeds struikelblokke. Asblikke word soms beskadig en die spesiale sakke daarin verdwyn weens sogenaamde “asblikgrouers”.
Delmas Herleef beskik oor ’n bakkie en sleepwa waarmee slaggate herstel word – iets wat Boet Harvey en sy span gereeld aanpak.

Die organisasie het ook ’n trekker en grassnyer waarmee parke versorg word en onderhoud by die plaaslike begraafplaas gedoen word. Bome word aangeplant en met die hulp van Schoeman Boerdery gereeld natgegooi, terwyl Fourie self sorg dat die blom- en plantebeddings in die dorp kleurvol en netjies bly.


A woman in a safety vest and gloves sitting on the ground.
Ellie Nieuwoudt verf ’n straatnaam. Foto: Thia Botha

Elke instandhoudingsprojek kos egter geld. Fourie doen daarom ’n beroep op inwoners om betrokke te raak – of deur hul arbeid aan te bied, self moue op te rol of deur donasies te maak.

Sy en Janse van Rensburg vergader gereeld met die plaaslike munisipaliteit en noem dat daar ’n goeie verstandhouding en samewerking bestaan. Probleme soos gebreekte stormwater-mangate en beskadigde kragpale word gefotografeer en onder die aandag van die munisipale bestuurder, Thabo Mashabela, gebring.

Hoewel Delmas Herleef nie ’n direkte oplossing vir die dorp se elektrisiteits- of waterprobleme kan bied nie, glo Fourie dat hulle wél ’n tasbare verskil kan maak aan die dorp se voorkoms en die agteruitgang kan teenwerk. Sy sê die span werk met trots, hoop en geloof.

Janse van Rensburg en Fourie het hul opregte dank uitgespreek teenoor elke vrywilliger, wyksleier, donateur en enige ander persoon wat help om hul visie vir Delmas ’n werklikheid te maak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button