Fotograwe skryf beste fotos in
Belangstellendes is welkom om volgende byeenkoms op 5 September by te woon.
Lede van die Hoëveld Fotografieklub het op 8 Augustus byeengekom om hul beste foto’s vir die maand in te skryf. Simon du Plessis het as beoordelaar opgetree, en die voorgeskrewe tema vir Augustus was Sunset and Sunrise.
Danie Smit se foto, Lions Head Sunset, is as die beste in die voorgeskrewe onderwerp-afdeling aangewys. In die tweekleur-afdeling het Peter Winnan se foto, On the Move, bo uitgeblink onder die senior fotograwe. Hy het ook sertifikate van meriete ontvang vir dié foto sowel as Kgalagadi Lions in die natuur-afdeling.
Onder die junior fotograwe het Yolandi Geyser se foto, Life’s Journey, in die pikturale afdeling uitgeblink. Sy het ook sertifikate van meriete ontvang vir Horned Adder in die natuur-afdeling en Zeus in die pikturale afdeling.
Dr. Leon Pelser het ‘n spesiale benoeming, asook ’n sertifikaat van meriete, ontvang vir sy foto Ewert in die pikturale afdeling.
Ander fotograwe wat ook sertifikate van meriete ontvang het, sluit in:
• Edmund Hattingh vir Hummingbird seeing Nectar in die natuurvoëls-afdeling
• Cimone Duncan vir Wild Bird (natuurvoëls-afdeling) en Sunset (voorgeskrewe onderwerp)
• Lorraine Botha vir Surf 2 (fotojoernalistieke afdeling) en Sunset New York (voorgeskrewe onderwerp)
Stian Griffin vir Golden Reflection (voorgeskrewe onderwerp)
Die Hoëveld Fotografieklub se volgende byeenkoms vind op 5 September om 18:00 vir 18:30 plaas by Scrum In in die Sasol Ontspanningsklub. Belangstellendes is welkom om dit by te woon.
Vir meer inligting, skakel Louis van der Walt by 072 755 2767.











