Skermtyd – pasop vir jou kind se oë én brein
Oogkundige by De Bruto Oogkundiges, waarsku ouers om nie te veel skermtyd toe te laat nie.
In vandag se tegnologiese era is selfone, tablette, rekenaars en televisies byna onafskeidbaar van kinders se daaglikse lewe. Lizette Becker, oogkundige by De Bruto Oogkundiges, waarsku ouers om nie te veel skermtyd toe te laat nie.
“Ek sien toenemend die negatiewe gevolge van te veel skermtyd – nie net aan kinders se oë nie, maar ook vir hul brein, konsentrasie en emosionele gesondheid.
Hoeveel skermtyd is gesond?
Becker sê die internasionale riglyne, volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie en die American Academy of Pediatrics, beveel aan dat TV, selfoon, tablet, rekenaar en speletjieskonsoles saamgetel word vir die dag se totaal:
• Onder 2 jaar: Geen skermtyd nie, behalwe vir video-oproepe met familie.
• 2-5 jaar: Hoogstens een uur per dag, verkieslik in kort sessies.
• 6-12 jaar: Maksimum twee ure per dag vir vermaak, buiten skoolwerk.
• Tieners: Probeer om onder drie ure per dag vir nie-akademiese gebruik te bly.
Volgens Becker het televisie ’n effens minder intense impak op die oë as fone of tablette, omdat dit gewoonlik verder weg is.
“Tog is dit stilsittyd wat by die dag se skermtotaal tel, en té veel TV kan steeds slaap, buitemuurse aktiwiteite en gesonde sosiale interaksie belemmer.”
Fisiese gevolge vir die oë
Becker lys hier wat die uitwerking van skermtyd op ’n kind se oë het:
• Oogspanning en digitale oogstremming: kinders knip hul oë minder voor ’n skerm, wat droë, branderige oë en vae visie veroorsaak.
• Verhoogte risiko van bysiendheid (myopie) – Ure se nabywerk en min buitelugtyd kan lei tot vroeë en vinnige ontwikkeling van bysiendheid.
• Postuurprobleme – Lang tye met die kop vorentoe gebuig veroorsaak nek- en rugklagtes.
Sielkundige en neurologiese impak
Becker verduidelik dat té veel tyd op skermtoestelle ook neurologiese gevolge het.
• Korter konsentrasiespan – Vinnige beelde en kitsbelonings op skerms lei tot ’n brein wat sukkel met stadiger, diep denke.
• ADHD-agtige simptome – Navorsing (JAMA Pediatrics, 2019) wys dat kinders met meer as twee uur skermtyd per dag ’n groter kans het om ADHD-simptome te ontwikkel of te vererger.
• Dopamienafhanklikheid – Skerms stimuleer die brein se beloningsentrum; gewone aktiwiteite voel minder interessant, wat tot rusteloosheid en verveling lei.
• Slaapversteurings – Blou lig in die aand vertraag melatonienproduksie, wat lei tot later inslaaptye en swak konsentrasie die volgende dag.
• Emosionele impak – Hoë skermgebruik word gekoppel aan verhoogde angs, depressie en swak selfbeeld, veral by sosiale media.
Praktiese wenke
Becker stel die volgende praktiese wenke vir ouers voor:
• Pas die 20-20-2-reël toe: Na elke 20 minute se nabywerk, kyk 20 sekondes ver in die verte, en bestee minstens twee uur per dag buite.
• Stel duidelike skermreëls vir huiswerk, speletjies en sosiale media – en sluit TV hierby in.
• Beperk skerms minstens ’n uur voor slaaptyd.
• Moedig buitemuurse aktiwiteite en gesig-tot-gesiggesprekke aan.
“Skerms is hier om te bly, maar kinders se brein en oë ontwikkel steeds. Gesonde gewoontes vandag kan help om hul sig, konsentrasie en emosionele welstand vir die toekoms te beskerm,” sluit Becker af.



