Kinders met leerprobleme sal hiér op Delmas blom
Son Op Blom se Kinders is geskik vir kinders met ADHD, aandagafleibaarheid, Aspergers, disleksie (leeshulp), disgrafie (skryfhulp) en diskalkulie (wiskundehulp).
Dit was net ’n kwessie van tyd dat Dotta Kruger ’n klein tutorsentrum in Delmas sou open. Dié tuisskool fokus op kinders wat weens leerprobleme nie in ’n hoofstroomskool kan funksioneer nie.
“Die Here het elke kind geskape om in die regte omgewing te kan dink, verstaan en presteer sonder enige angs of vrees,” verduidelik Kruger.
Sy het soveel kinders met leerprobleme in die afgelope agt jaar sien blom, en dit het haar aangespoor om Son Op Blom se Kinders te skep, ’n plek waar sy remediërende leerhulp aan dié kinders bied.
Dié tutorsentrum is geskik vir kinders met ADHD, aandagafleibaarheid, Aspergers, disleksie (leeshulp), disgrafie (skryfhulp) en diskalkulie (wiskundehulp).

Die klank-, lees- en skryf-skool wat Kruger op 1 September open, is ’n groot aanwins vir Delmas se kinders.
“As ’n kind dit moeilik vind om te klank en om klanke te kan vorm, kan hulle nie lees of skryf nie. Dit ontneem hulle van hul menswaardigheid, asook ’n hele wêreld wat hulle nie kan ontdek nie,” verduidelik Kruger.
Kruger glo daaraan om, saam met die ouers, ’n pad van geduld, liefde en aandag te stap. Dit behels die regte dieet, medikasie wat gemonitor word, emosionele ondersteuning, en die oefen van liggaam-, brein- en handspiere.
Skakel Kruger nog vandag by 071 448 3611 om jou kind se plek vir 2026 te verseker.



