Kleuterskool op Delmas leer van reptiele
Met Heidi se tema van reptiele vir die week het nuuskierige kleuters met groot oë en leergierige ore na die ‘oom’ se opvoedkundige praatjie geluister.
Heidi Kleuterskool op Delmas het op 21 Augustus besoek gekry van Kenneth Strydom van ECO Pilots. Met Heidi se tema van reptiele vir die week het nuuskierige kleuters met groot oë en leergierige ore na die ‘oom’ se opvoedkundige praatjie geluister.
Strydom het die oggend se verrigtinge met Terence, ’n reusagtige tarantula-spinnekop, afgeskop. Daar was ook Prince William, die reusebrulpadda, verskeie skilpaaie, ’n likkewaan en selfs ’n jong krokodil en ’n luislang.
Heidi se juffrouens het braaf meegedoen, en terwyl sommige van ‘Prince William’ af weggeskram het, het ander met die luislang om die nek, die krokodil en die tarantula op hande breed vir die kamera geglimlag.
Riëtte Wheller, die skoolhoof, het vir Strydom opreg bedank vir sy leersame en geduldige aanbieding van die oggend se verrigtinge.










