Local newsNewsStreeknuus

Ou orrel gaan saam kerk op Bronkhorstspruit se 120ste bestaansjaar vier

Die NG Kerk Bronkhorstspruit hou hul groot fees op 11 en 12 Oktober.

Die NG Kerk op Bronkhorstspruit vier vanjaar sy 120ste bestaansjaar. In die aanloop tot die groot feesnaweek op 11 en 12 Oktober om die 120 jaar van genade te vier, word allerlei interessanthede van toeka tot nou op dié kerk se sosiale media vertel.

Een van die interessante verhale is dié oor die geskiedenis van die traporrel wat ‘n ereplek in die kerkgebou het. Die orrel was vanaf 1854 in gebruik by die NG Kerk Pretoria.

Dit is deur die Esteg Organ Co in Brattleboro, Vermont, vervaardig. Dit was in gebruik in die Pretoria-gemeente totdat dit as bruidskat by die afstigting van die NG Erasmus-gemeente in 1905 geskenk is aan wat nou bekendstaan as die Nederduitse Gereformeerde Kerk Bronkhorstspruit.

Die traporrel was in die eerste kerkgebou in gebruik tot die kerk in 1963 vervang is met die huidige kerkgebou, waar ʼn pyporrel ingebou is.

ʼn Ouderling het toe die orrel gekoop en dit is later aan ʼn tweedehandse winkel verkoop, maar terwyl hy besig was om die orrel by die winkel af te laai, het ‘n vrou gevra of sy dit by hom mag koop.


LEES OOK: Classes halted at academy in Delmas in memory of slain manager


Sy was ʼn musiekonderwyseres, Pietie Fourie. Sy het die orrel laat restoureer en moes drie lae verf verwyder. Die kas van die orrel is uitmekaar gehaal en paneel vir paneel opgeknap. Later het die Fourie-gesin Velddrif toe verhuis en die orrel is saam.

Daar het Stefan Welsh, ʼn bekende in oudhede, dit vir etlike duisende rande gewaardeer.

In 1996 het Pietie Fourie die kerk gekontak en vertel dat sy iewers gelees het dat die sandsteenklippe wat voor by die kerk by die trappe gebruik is, van die ou oorspronklike kerk herwin is. Sy het toe gedink dat as ʼn gemeente so ver sal gaan om die geskiedenis te onthou en te bewaar, hulle die orrel sal terugverwelkom.

Sy het dr. Gerhard Mahne geskakel en die orrel vir R1 000 vir die gemeente aangebied omdat sy besig was om na ‘n aftreeoord te verhuis.

Mahne en Hendrik Coetser het met ʼn kombi die pad gevat na Port Owen toe om dit gaan haal. ʼn Spesiale plek is ingerig vir die orrel.


LEES OOK: Residents in Morgenzon burn waste as site stays idle


ʼn Feestelike nagmaaldiens is op 16 November 1997 in die gemeente gehou om die orrel terug te verwelkom. Almal het probeer om volgens die mode van destyds aan te trek met hoede, manelle, swart pakke en wit dasse. Die orrelis wat agter die pedale en blaasbakke ingeskuif het, was Anna-Marie Beukes.

In 2008, met die aanbou van die kerk, is ʼn platform by die ingang van die kerk vir die orrel gemaak sodat dit in die oog en sentraal kon staan, maar in 2020 moes die orrel geskuif word om plek te maak vir die klankkas. Die orrel is toe na die voorportaal van die kerk verskuif.

Met beurtkrag het die orrel op ‘n Saterdag tydens ʼn troue handig te pas gekom. Net toe die bruid by die kerk wou instap, het die krag afgegaan.

Die orrelis, Petro Olivier, het sy haar teenwoordigheid van gees behou, afgehardloop en die bruid met die geklank van die 1854-orreltjie die kerkpaadjie laat afstap.

As dié orrel kon praat sou dit vertel van al die eredienste, troues, begrafnisse, musieklesse en nog vele meer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Arisja Misselhorn

I have been a journalist for more than 30 years. I worked for Caxton and Beeld and also for my own publication. I returned to Ridge Times in 2018. I became editor for Ridge Times, Standerton Advertiser and Streeknuus in 2023. I completed numerous courses throughout the years, and I have won several awards.

Related Articles

Back to top button