Standerton Landbouskou 2025 skop stof op
Die Standerton Landbouskou het weer op 12 en 13 September groot skares gelok.
Die Standerton Landbouskou van 2025 was ’n fees vol vermaak, heerlike kos, interessante uitstallings en kunstenaars wat geweet het hoe om ’n makietie behoorlik aan die gang te kry.
Dag 1 gooi die hekke oop
Die hekke is op 12 September om 12:00 amptelik geopen deur Sifiso Mngemezulu, uitvoerende burgemeester, waarna die bedrywighede dadelik afgeskop het.
Perde is opgesaal en laaste klanktoetse is gedoen ter voorbereiding van die vermaakprogram vir die skounaweek. Kinders het hulself vermaak tussen die speelgoedstalletjies en die reuse big bounce-springkasteel, terwyl ouers die geleentheid gehad het om by die verskeidenheid peuselhappies stil te staan.
Op die verhoog het Candy Benson eerste haar verskyning gemaak en die skare met ’n klomp treffers aan die dans kry. Kort daarna het Gerhard Steyn die verhoog oorgeneem en die dansbaan oopgemaak vir al die sokkieliefhebbers.
Die fees-atmosfeer het dwarsdeur die dag aangehou, met musiek, geselskap en die opgewondenheid wat die Standerton Landbouskou jaar na jaar bekend maak.
Dag 2 vol opwinding en vermaak
Die tweede dag van die Standerton Landbouskou was opwindend, met allerlei aktiwiteite soos die potjiekoskompetisie, ’n modeperade en ’n reuse kuier vir die hele gemeenskap.
Heerlike reuke van die potjiekos het in die lug gehang terwyl die sewe spanne hul harte en siel in die kookkuns gegooi het. Terselfdertyd het die meisies van Model Akademie die verhoog ingeneem vir ’n glansryke modeperade, wat skougangers se aandag voluit getrek het.
Die vermaak het die dag op ’n hoogtepunt gehou, met optredes deur Justin Coetzee en Judith Kea wat die skare op hulle voete gehou het.
Later het Franja du Plessis die verhoog betree, en die skare het na die dansvloer gehardloop om saam te geniet. Die naweek is afgesluit deur Brendan Peyper, wat ’n skare jong meisies laat voel het dat hy die lied “Jy’s my trouvrou” net vir hulle sing.






















