Local newsNews

Laureti-egpaar vestig hulle op sendingstasie naby Evander

Sendingstasie- en skool gee terug aan gemeenskap.

Lourens (53) en Marie Laureti (47) staan sedert verlede jaar aan die stuur van sake by Adullam Sendingstasie en Skool. Lourens is as die nuwe direkteur van Adullam aangewys nadat dié egpaar vir 17 jaar in Papoea-Nieu-Guinee, ’n eiland in die suidwestelike Stille Oseaan, as sendelinge gewerk het.

Hulle het eers vir ses maande in Engeland opleiding ontvang om sendelinge te word. Die Laureti’s het onder mense in Papoea-Nieu-Guinee gewerk wat nog nooit die evangelie van Jesus Christus gehoor het nie.

“Ons moes twee van die 800 tale wat hulle daar praat, aanleer,” het Lourens vertel.

Die egpaar het in samewerking met die organisasie New Tribes Mission en ander sendelinge die Bybel vir die eilandbewoners vertaal. Hulle het ook in die 17 jaar gehelp om vir die inwoners ’n alfabet te ontwikkel en hulle geleer lees en skryf.


Lourens Laureti saam met die plaaslike inwoners van Papoea-Nieu-Guinee waar hy vir 17 jaar gewoon en sendingwerk gedoen het. Foto: Verskaf

“Ons het stelselmatig die evangelie aangebied, later ’n kerk geplant, en die gelowiges geleer totdat hulle ons nie meer nodig gehad het nie,” het Lourens vertel.

Marie het die tyd in Papoea-Nieu-Guinee geniet en dit as ’n wonderlike plek beskryf om hul vier kinders te kon grootmaak, maar sy sê dit is vir haar lekker om in haar geboorteland te wees.

“Jy is in die oerwoud daar. Daar is niks nie. Ons moes kos vir ’n maand of drie voor die tyd bestel dan word dit per vliegtuig afgelewer. Ek gaan nou elke dag dorp toe net omdat ek kan,” het sy vertel.

In later jare het hulle vanaf die middel van die oerwoud na die basiskamp van die organisasie in Papoea-Nieu-Guinee getrek waar Lourens meer betrokke was by die opleiding van sendelinge.


Die oerwoud in Papoea-Nieu-Guinee waar die Loureti’s vir 17 jaar gewoon en werk het as sendelinge. Foto: Verskaf

Die egpaar het besluit om na Suid-Afrika terug te keer en hulself op Adullam gevestig. Adullam is ’n interkerklike organisasie wat toegewyd is om hande te neem met plaaslike kerke en organisasies om saam ’n blywende impak op die Koningkryk van God te maak.

Adullam fokus op hul skool en kleuterskool, opleiding wat hulle aanbied vir predikers van eMbalenhle en omliggende gebiede, en ’n huis van veiligheid vir mishandelde vroue en kinders. Al drie hierdie projekte funksioneer reeds en die egpaar wil dit verbeter en uitbrei.

Adullam is deel van ’n trust wat bestaan uit verskeie predikante en professionele mense wat dokters, ingenieurs en maatskaplike werkers insluit.

Hulle kan ook ’n 18A-sertifikaat uitreik vir enige onderneming of persoon wat hulle finansieel ondersteun. Vir meer inligting, of om by Adullam betrokke te raak of hulle te ondersteun, skakel 017 689 2001.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Jana Oosthuizen

I have been working for the Ridge Times newspaper for 15 years. I worked in a few other fields before starting to work for the newspaper in October 2009. I have a diploma in Journalism and the areas where I cover news include Secunda, Bethal, Trichardt, Evander, Leandra and Kinross.

Related Articles

Back to top button