Local newsNews

Standerton Advertiser kraai koning by skou se potjiekoskompetisie

Die Standerton Advertiser het ’n eersteplek behaal by die jaar se potjiekoskokkedoor.

Die Standerton Advertiser is op 13 September as Potjiekoskokkedoor-wenner vir 2025 gekroon. Die Northern Light Foundation het vanjaar weer die potjiekoskompetisie by die Standerton Landbouskou aangebied.

Die deelnemers het Standerton Toyota, die Standerton Advertiser, Kosmos Aftreeoord, AfriForum Standerton, Youth in Christ Volle Evangeliese Kerk Kruisgenerasie, AGS Ekklesia en Morgan Isuzu Standerton ingesluit.

Die beoordeelaars het nege potte geproe en met propvol mae die prys vir die beste pot aan die Standerton Advertiser toegeken vir hul boerebunny met roosterkoek.

Die AfriForum Meerkatte die potjiekoskokkedoor-wenners van 2024 het ’n tweede plek behaal met hulle biltongpot.

Die VEK Kruisgenerasie het die prys vir die beste spangees gewen, en AGS Ekklesia het met hul Hawaii-tema die prys vir die mooiste stalletjie huis toe geneem.

Die vete tussen die Standerton Advertiser en die AfriForum Meerkatte was duidelik sigbaar oor die kokende potte en strek al sedert die koerant laasjaar hul debuut by die potjiekoskompetisie gemaak het.

In 2024 het die Standerton Advertiser die tweede plek ingeneem, terwyl AfriForum die wisseltrofee huis toe geneem het. Die hoogtepunt van hierdie jaar se kompetisie was die lighartige geskerts tussen die spanne.

Volgens Hennie Bekker is die AfriForum Meerkatte reeds kookskool toe in voorbereiding vir volgende jaar se pot. Hillel Coetzer van die Northern Light Foundation beskryf vanjaar se potjiekoskompetisie as ’n sukses weens die pragtige stalletjies en die smullekker potte wat bedien is.

“Ons glo volgende jaar sal daar meer spanne wees om die huidige kokkedore uit te daag en te probeer onttroon,” het Coetzer gesê.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button