Thea Potgieter groet Kinross na 51 jaar
Kinross VLU-voorsitter verruil Kinross vir Gouritsmond.
Thea Potgieter en haar man Manie groet Kinross, Evander, Secunda en omgewing ná 51 jaar. Potgieter was vir 30 jaar betrokke by die VLU, eers as gewone lid, later op die bestuur en vir die afgelope paar jaar was sy die voorsitter van die VLU Kinross-tak.
Sy is in Brits gebore, het op Heidelberg gematrikuleer en het ná matriek verpleging by die destydste opleidingshospitaal op Standerton gedoen.
Sy het in later jare beroepsgesondheid deur Unisa studeer en by Evander Hospitaal gewerk. Potgieter het vir die afgelope 10 jaar as kliniekbestuurder by Basadi Occupational Health gewerk.
Sy sien nou uit na die nuwe hoofstuk in Gouritsmond en om meer tyd met haar man deur te bring. Haar drie volwasse kinders woon op Vredendal, naby Endicott op ’n plaas en in Nieu-Seeland.
LEES OOK: Govan Mbeki Municipality writes off millions in unauthorised and irregular expenditure
Sy en haar man het al twee keer in Nieu-Seeland gekuier en wil binnekort weer daarheen gaan.
“Ons het dit baie geniet om al die nuwe plekke te sien en alles is so mooi skoon daar,” het Potgieter gesê.
Die egpaar het vyf kleinkinders.
Potgieter geniet dit om blomme te rangskik en te brei en het graag deelgeneem aan die gebak- en gebottelde-afdeling van die VLU-kompetisies.
Sy was aktief betrokke en deel van die kerkraad by die Hervormde Kerk in Evander. Potgieter het gesê sy sal dalk later weer by die VLU naby Gouritsmond aansluit, maar vir eers wil sy haar voete vind.
LEES OOK: Water supply in Standerton will be interrupted for two weeks



