Aftreeoord op Standerton ontvang groot skenking
Boonop het die Kosmos Aftreeoord reeds ’n aantal geldinsamelingsprojekte vir die jaar aangebied.
Die Kosmos Aftreeoord het op 11 November ’n ruim skenking van linne, kussings, handdoeke en vele meer ontvang. Volgens Sanpat Coetzee, die bestuurder, is dié skenking weer eens ’n bewys van hoe goed die gemeenskap vir bejaardes in die oord sorg.
“Ons hoef nie eers te vra nie, dit word sommer aangebied,” het Coetzee gesê.
Die skenking het ingesluit rolle rooi materiaal asook deken- en kombersmateriaal vanaf Standerton Mills, en die sny en maak van 87 stelle lakens en kussingslope, 100 tafeldoeke en oorlegsels en 48 komberse vanaf Antoinette Swart van Papillon Signs.
Best Buy Standerton het sowat 50 pakke vadoeke geskenk en Chris en Elbie du Plessis het twee rolle laken- en oorlegselsmateriaal, 16 vierstuk-handdoekstelle, 31 komberse, 20 sagte waslappe en 20 kussings geskenk.
“Julle sorg vir ons hartsmense, dankie is nie genoeg nie,” het Antoinette Swart gesê.
Boonop het die Kosmos Aftreeoord reeds ’n aantal geldinsamelingsprojekte vir die jaar aangebied.
Geld verkry uit die onlangse gholfdag was geoormerk om vier nuwe hospitaalbeddens vir die oord te koop, wat die tehuis op 12 November gaan haal het.
“Ons beplan nog ’n aantal Kersfunksies, ’n spesiale ete vir die inwoners, ’n Kerssangmiddag en ete op Kersdag,” het Coetzee gesê.
Die personeel se dankbare liedere het deur die gange van die oord geëggo.




