Fietsryers vier opening van nuwe baan op Secunda
Belangstellendes is welkom om die nuwe fietsrybaan uit te probeer.
Die Groenstrook Gabbas, wat die groenstroke op Secunda skoonmaak en onderhou, het met die hulp van versekeie ondernemings se borgskappe, ’n bergfietsbaan, Central Park Mountain Bike Trail, in die groenstrook langs Hoërskool Secunda, geopen.
Dié ondernemings het hul arbeiders en masjienerie beskikbaar gestel om die baan te bou asook grond geskenk. Dié baan is deur die Secunda-gemeenskap ontwikkel en is ’n gemeenskaps-baan.
Stefan Ferreira, Robert Fourie, Francois Binneman en Eben Binneman was verantwoordelik vir die tegniese ontwikkeling van die nuwe fietsrybaan wat uit twee roetes bestaan.
Die opening van dié nuwe baan is op 15 November gevier toe fietsryers vir die eerste keer daarop kon ry. Die baan bestaan uit ’n 3km- en ’n 4.7km-roete.

Die 3km-roete is met blou gemerk en is ideaal vir klein kinders en beginners om eers hul vaardighede te oefen, terwyl die 4.7km-roete met rooi gemerk is en vir die meer ervare ryers geskik is.
Dié roetes is gesik vir fietsryers van beginnersvlak tot meer gevorderde vlakke. Daar was op dié dag ’n kenner wat fietsryers gehelp het om op die nuwe baan te ry.
Die Groenstrook Gabbas het ook ’n nuwe geel brug op die baan gebou sodat beide fietsryers en parkrunners gemaklik verby mekaar kan beweeg.
Daar was verskeie stalletjies wat kos en drinkgoed verkoop het en altesaam 170 fietsryers het aan dié dag deelgeneem. Die fietsryers het gekyk wie kon die roete die vinnigste ry en die eerste drie fietsryers onder die mans en vroue het spesiale pryse ontvang.
LEES OOK: Vrou van Secunda skryf self-help-boek oor entrepreneurskap
Brand du Plessis en sy seun, ook Brand, het onderskeidelik eerste en derde onder die mans geëindig terwyl Eben Binneman tweede geëindig het.
Onder die vroue was dit Lu-Mari du Plessis wat eerste oor die eindstreep gejaag het terwyl haar ma, Wilmarie du Plessis tweede geëindg het en Margaux Nell derde.
Die organiseerders van die dag het al die ondernemings wat betrokke was vir hul ondersteuning en borgskappe bedank. Hulle het die gemeenskap genooi om dié baan te gebruik en gesê toegang is gratis.
Een van die Groenstrook Gabbas, Nicolene Vere-Russel, het gesê mense kan ook gerus die Groen Gabbas se werk ondersteun en by hulle betrokke raak.





