Twee vriendinne van Secunda hardloop vir goeie doel
Anina Joubert (18) en Juandri Fourie (17) gaan op 6 Desember vir 12 ure aaneen draf en stap om geld vir die SAVF Kinderhuis in te samel.
Die twee vriendinne, Anina Joubert (18) en Juandri Fourie (17) gaan op 6 Desember vir 12 ure aaneen draf en stap vir ’n goeie doel.
Dié twee, oud-leerders van Hoërskool Secunda, wou iets doen wat hulle vry laat voel ná die eindeksamen. Hulle het toe gedink hoekom nie sommer iets doen wat die moeite werd is nie en ’n verskil in iemand se lewe kan maak.
“Ek het die gedagte gehad om te draf en geld in te samel vir die SAVF Kinderhuis en toe ek dit die dag vir Anina stuur, het sy dadelik ingestem,” het Fourie vertel.
Joubert het vertel tydens haar stiltetyd dié aand het die kinderhuis in haar gedagtes opgekom. Joubert se ma is die Comrades-atleet, Helena Joubert.
“My ma draf eerder saam met ons as wat ons saam met haar draf. Dit is vir haar soos ’n stappie in die park as sy saam met ons draf,” het Joubert laggend vertel.
Joubert en Fourie skop op 6 Desember om 07:00 af en het ’n 6.4km roete uitgewerk wat hulle gaan herhaal tot 19:00.
Ondernemings en belangstellendes kan hulle per kilometer borg, of ’n eenmalige bedrag skenk.
Hulle gaan nie meer as 50km draf nie om dit vir ondernemings wat hulle per kilometer wil borg, makliker te maak om te begroot.
Albei meisies het op skool aan netbal en atletiek deelgeneem en oefen al ’n paar weke vir dié geleentheid. Van hu vriende gaan dele van die roete saam met hulle hardloop, maar nie die heeldag nie.
Enigiemand wat belangstel is ook welkom om saam met hulle te gaan stap of draf op dié dag of om hulle langs die pad aan te moedig en te ondersteun.
LEES OOK: Twee vroue nooi mense na Christelike kampe op Charl Cilliers
“Ons gaan stadig draf en baie stap tussen-in. Dit sal teen ’n pas wees sodat ’n mens nog ’n gesprek met mekaar kan hê terwyl ons draf,” het Fourie gesê.
Fourie gaan volgende jaar fisiologie en biochemie studeer, terwyl Joubert ’n graad in geneeskunde gaan begin.
Hulle gaan ’n regstreekse ligging deel op ’n WhatsApp groep op die dag van hul 12 ure draf- en stapsessie en belangstellendes is welkom om hulle te volg.
Vir meer inligting, of om op die WhatsApp-groep geplaas te word, volg die skakel:
https://chat.whatsapp.com/HLL2CRIzQAR55vveo37eET of skakel Fourie of Joubert by 082 494 0585 of 076 065 6302.
LEES OOK: Policewoman from Secunda thrives in her forensic work



