Dié poppies kan troos bring vir slagoffers in die Standerton-omgewing
Kinderbeskermingseenheid ontvang handgebreide beertjies van George Hofmeyr Skool.
Die REPLiKA #onsgeeom-span het hande gevat met die REPLiKA Zulu-kampus en George Hofmeyr Skool om aan die kinderbeskermingseenheid hoop en liefde in die vorm van handgebreide beertjies te gee.
Volgens kaptein Mark Nortjé van die kinderbeskermingseenheid is daar speelgoed vir kinders om te speel in die kantoor. Die kinders kan egter nie hierdie speelgoed saam huistoe neem nie.
Pastoor Sizwe Motaung en Janelize Roux het beplanning gedoen en George Hofmeyr Skool genader. Die skool het ingestem dat die leerders die beertjies brei en hekel. Hierdie sagte speelgoed is op 24 November aan die kinderbeskermingseenheid oorhandig.
“Elke kind kan nou ’n klein troosie huistoe neem in ’n tyd van trauma. Hierdie soort samesyn en bystand kan, veral in gevalle waar kinders mishandel word, die wêreld se verskil maak en hoop skenk aan andersins bleek situasies,” het Roux verduidelik.




